
Mnr. Paul Bester is vir die derde keer as die wenner van Vleissentraal en SA Stamboek se Elite-bulgroeitoetsklas in Bloemfontein aangewys en het namens die genootskap sy verbintenis met die Hoërskool Douglas bekend gemaak. ’n Groepie stoetdiere word geskenk om ’n stoetery by die skool te begin.
Bester, hoofbestuurder van Bertie van Zyl (Edms.) Bpk. se veeboerdery by Mooketsi, het die bulgroeitoetsklas tydens Bloemskou met Mathomo Leroy, geteel uit die bekende Mathomo-PinZ²yl-stoetery van die boerdery ZZ2, gewen.
Die skenking van stoetdiere is ’n uitvloeisel van die genootskap en ZZ2 se betrokkenheid die afgelope vier jaar by die Hoërskool Merensky naby Tzaneen in Limpopo. Die beoogde stoetery is deel van Hoërskool Douglas se beesboer- en mielieprojek ter stuiwing van die skoolfonds.
Op die meegaande foto verskyn:
Landbouleerlinge in graad 11 en 12 aan die Hoërskool Douglas maak kennis met Pinzgauer- en PinZ²yl-stoetbeeste. Van regs is Neels Faber, Theresa Ludwick (sittend op die bul Madoda Davey), Rikus Nel, Dan Botha, Jason Ferreira, Cilliers Fourie, Leon Lubbe, Jacobus de Bruin, Nelius Bekker en Kegan Ellison.