
Dis nou mits die baie lae speenkalfpersentasie onder ontwikkelende en kommunale boere verbeter kan word, het prof. Frikkie Neser, hoogleraar in dier-, weiding- en wildkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, op die jaarlikse Vleisbeesskool by Aldam gesê.
Die byeenkoms is deur Landbouweekblad en Breedplan onder beskerming van die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF) aangebied.
Groot getalle boere en ander landboumense van Suid-Afrika en Namibië het dit bygewoon. Talle plaaslike en internasionale kenners van Amerika en Australië het hulle toegespreek.
Lae verkope
Neser het gesê die groot probleem is die lae verkope van vee van die plaas af, gemeet in kilogram gewig wat bemark word. By opkomende boere is dit 21% en by kommunale boere slegs 6%. Selfs in die kommersiële sektor is dit net 32%, wat darem heelwat verbeter het sedert 1970 toe dit 20% was. Amerika met 38% en Nieu-Seeland met 37% vaar die beste, die Europese Unie staan op 34%, Argentinië en Uruguay op 30% en Australië op 28%.
Alles hou verband met die lae speenpersentasie by beeste. Daar is ongeveer 4 miljoen beeste in ontwikkelende en kommunale besit en hul speenpersentasie is uiters laag. As dit verhoog kan word, sal die land weer selfvoorsienend met beesvleis word en selfs vleis kan uitvoer. Daarom is hoë vrugbaarheid belangrik.
Neser het aan Landbouweekblad gesê die oplossing is beter voorligting aan opkomende en kommunale boere. Die Regering moet dit as ’n voorrangsaak beskou om saam met die private sektor daardie boere op te lei. “Dit help nie die Regering sit boere op grond sonder om hulle op te lei nie.”
Hy het gesê speenkalfproduksie is die belangrikste vleisbeesstelsel in Suider-Afrika. Beesproduksie het baie duur geword, selfs al het boere se doeltreffendheid al baie verhoog. Hoë produksiekoste is een van die probleme, veral vir boere wat hul koeie in die herfs laat kalf. Daardie boere moet die koeie en kalwers deur die winter byvoeding gee en moet minstens 26% meer vir hul speenkalwers kry net om gelyk te speel, teenoor ’n boer wat in die lente laat kalf en dan goeie weiding het.