
Die 34,9%-aandeel wat die Suidwes-groep in Botselo Mills in Noordwes bekom het, skakel in by sy langtermynvisie om sy voetspoor en betrokkenheid by die mieliewaardeketting uit te brei, sê Suidwes se hoof uitvoerende beampte, mnr. Herman van Schalkwyk, in ’n mediaverklaring.
Botselo Mills se meule en mielieverwerkingsaanleg is buite Delareywille geleë en is deur die Hobson-familie, wat al vir drie generasies in die provinsie boer, op die been gebring. “Dit is vanuit hierdie boerdery agtergrond wat ons entoesiasme vir die meulebesigheid sowat 30 jaar gelede gebore is,” sê mnr. Carey Hobson, besturende direkteur van Botselo Mills.
Suidwes “glo dat hierdie transaksie verder tot sy lede se voordeel sal strek” en vanuit Botselo Mills se oogpunt “maak hierdie transaksie vir Botselo Mills sin omdat daar ’n perfekte passing is wat besigheidskultuur, -etiek en –filosofie betref en verder ondersteun dit Botselo Mills se doelwit om die maal- en mielieverwerkingsaanleg van keuse te wees, met produkte en dienste van uitstaande gehalte”.