
Die handrem op die ontwikkeling van landbou-programmatuur, -tegnologie en die vooruitgang van tegnologie vir dataverwerking is amper heeltemal losgemaak nadat die Oos-Kaapse landboumaatskappy Die Kooperasie met die Wes-Kaapse tegnologiemaatskappy Aerobotics in vennootskap getree het.
Mnr. James Paterson, uitvoerende hoof van Aerobotics, meen dit is ’n belangrike stap vir die ontwikkeling van tegnologie. “Ons tegnologie en programmatuur kan uitstekende waarde vir die boere van die Oos-Kaap toevoeg. Met hierdie vennootskap kan ons duisende boere help met vroeë siekte- en plaag-identifikasie, verhoogde opbrengs deur presisieboerderypraktyke en ’n meer gebalanseerde oes weens die datalesings wat ons hommeltuie en programmatuur kan verwerk om aan die produsente beter en akkurater inligting te verskaf.”
Die kunsmatige intelligensie wat Aerobotics se programme verskaf, maak dit moontlik om met hommeltuie baie vroeër as wat met die mens se oog moontlik is, moontlike probleme, siektes en plae te identifiseer. Die kamerategnologie van hommeltuie kan ook voedingstoftekorte by vrugtebome en die vogstatus van die grond ontleed, wat tot gevolg het dat goeie aanbevelings vir presisie-toediening van besproeiing en bemesting gemaak kan word.
As deel van die vennootskap sal Aerobotics boomanalise-tegnologie beskikbaar maak aan die lede van Die Kooperasie. Lede van Die Kooperasie kan hul koöperasierekening gebruik om vir Aerobotics se dienste te betaal, wat beteken dat die betaling eers ná die oes hoef plaas te vind. Hierdie diens sluit albei die Aerobotics-pakkette in, hetsy jy jou eie hommeltuig wil gebruik of van Aerobotics se gekontrakteerde vlieëniers gebruik wil maak.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.