
Aerobotics win gewasdata in deur die gebruik van satellietbeelde en hommeltuigtegnologie, wat dan met die hulp van kunsmatige intelligensie gebruik word om gewasgesondheid en -groei, asook grondvog en die beraamde oes te bepaal.
Die maatskappy brei tans vinnig uit en het sy laaste miljoen bome in slegs vyf dae in November verwerk. Mnr. Tim Willis, hoof van groei en finansies by Aerobotics, het dié prestasie aangekondig by die AfricaCom-byeenkoms wat pas in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum plaasgevind het.
Volgens Willis maak die hoë volume bome die maatskappy se sagteware sterker en akkurater. Aerobotics se data help boere om probleme, plae en siektes wat individuele bome of wingerdstokke raak, vroeg te ontdek en te ontleed.
Die vroeë opsporing van siektes en plae kan doeltreffender met dié tegnologie gedoen word as met die blote oog, sodat skade aan die boer se oes verminder of voorkom kan word.
“Dit is nie net ’n belangrike mylpaal vir ons maatskappy nie, maar ook vir die breër landboubedryf, aangesien ons beter geposisioneer is om boere reg oor die wêreld te help,” sê Willis.
Die maatskappy het onlangs, danksy beleggings van maatskappye soos Nedbank, na die Amerikaanse deelstad Florida uitgebrei. Luidens ’n verklaring wat deur Aerobotics uitgereik is, stel die maatskappy se sagteware, Aeroview, boere in staat om in ’n vroeë stadium probleme te identifiseer met die hulp van die Aeroview Scout-toepassing, wat ook op ’n selfoon gebruik kan word.
Dié tegnologie word ook voortdurend verder ontwikkel en verfyn, om boere van ’n toenemend meer gedetaileerde ontleding van boomgewasse te voorsien.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.