In navorsing van Isowat Consulting, wat deur die Waternavorsingskommissie gefinansier is, is tot die gevolgtrekking gekom dat verskeie hernubare energietoepassings vir besproeiing haalbaar is, en dat sonenergie die grootste potensiaal het.
’n Doeltreffende ontwerp (ook van die besproeiingstelsel) is nodig om ’n redelike opbrengs op die belegging te verseker, het me. Scarlet Barnard op die Suid-Afrikaanse besproeiingsinstituut (Sabi) se kongres vroeër vanjaar in Gqeberha gesê.
Die studie, wat gekonsentreer het op die ruimtelike riglyne vir die tegniese en finansiële haalbaarheid van alternatiewe energiebronne vir besproeiing, het onder meer gekyk na die beskikbaarheid van hernubare energiebronne in verskillende gebiede in Suid-Afrika vir son-, wind-, hidro-elektriese en biomassa-energie, asook hibriede stelsels.