Oor die jare het boerdery ’n fyn kuns geword om tydig en op die regte manier in te gryp en aksies uit te voer in ’n ingewikkelde en onvoorspelbare omgewing, terwyl die natuurlike balans gehandhaaf word.
Presisietegnologie by bewerkings-, plant- en toedieningstoerusting maak data beskikbaar wat alles deel van ’n groter som word waar datastrome van moniteringstoerusting, weerstasies en arbeidsregisters, asook gehalte en opbrengste in ag geneem moet word.
Die data as sodanig is net syfers, maar vir boere is dit van onskatbare waarde wanneer dit geïntegreer en gekorreleer word om ’n geheelbeeld te skep van ’n boerdery se suksesse en tekortkominge. Dit bied insig wat wyse boerderybesluite intyds en in die toekoms moontlik maak.