As jy by die outomatiese glasdeure van Dragonfly Aerospace in die hartjie van Stellenbosch instap, wonder niemand waarmee mense hier doenig is nie. Honderde klein wit liggies skitter teen die pikswart plafon van die ingangsportaal, nes die sterrehemel op ’n donker aand.
Op ’n koffietafel langs ’n koningsblou bank lê ’n uitgawe van National Geographic: The Space Issue. Twee jaar lank, sedert Desember 2019, het ’n span van nagenoeg 60 ingenieurs en spesialiste hier onverpoos, elke dag en soms lang nagte deur, aan die Agrisat-1- satelliet gewerk om dit af te rond.
Dié satelliet, ook bekend as Eos Sat-1, is die eerste ter wêreld wat spesifiek vir die landbousektor gebou is. Dit gaan in Desember deur die miljardêr-entrepreneur Elon Musk se SpaceX-ruimtemaatskappy vanuit Florida, Amerika, die atmosfeer ingestuur word.