
Terwyl die Suid-Afrikaanse regering skarrel om nog diesel te bekom sodat Eskom die land se ligte met peperduur dieselkragopwekking aan kan hou, wek Mosambiek betreklik goedkoop elektrisiteit op met gasturbines wat in so min as twee jaar gebou kan word. Só het mnr. Johan de Vos, energiekenner en voorsitter van Gigajoule International, op Landbouweekblad se Gee my Krag!-webinaar oor energie-oplossings gesê.
Van 2014 tot 2017 is vier gasaangedrewe kragsentrales in Mosambiek gebou. De Vos het gesê hoewel die klem tans op hernieubare energie is, kan gasaanlegte vinnig gebou word. Gas is ’n goeie energiebron om die onbestendigheid van wind- en sonkrag uit te balanseer.
Hy het gesê Suid-Afrika kan baat vind deur by sy bure aan te klop vir hulp met sy energiekrisis. Daar is reeds twee kraglyne wat sowat 1 500 MW elektrisiteit van Cahorra Bassa se hidroëlektrisiteitaanleg af na Suid-Afrika bring en daar kan nog 3 500 MW vir Suid-Afrika opgewek word. “Hidro-aanlegte duur ongelukkig bietjie langer as gasaanlegte om te bou, maar selfs Eskom sal erken dat die krag van Cahorra Bassa ons goedkoopste is.”
’n Gaspyplyn wat in 2004 van Mosambiek na Suid-Afrika gebou is, bring reeds groot hoeveelhede energie van die gasvelde van Pande en Temane oor meer as 800 km na Suid-Afrika se Sasol-aanleg. ’n Gasreserwe wat onlangs in die noorde van Mosambiek ontdek is, kan die grootste ter wêreld wees, het De Vos gesê. Hy meen daarom die oplossing vir Suid-Afrika se energieprobleme lê in ’n streeks-georiënteerde benadering.
Landbougrond
Buiten dat die wind nie altyd waai en die son nie altyd skyn nie, het De Vos gesê Suid-Afrika betaal reeds ’n duur prys in landbougrond vir sy opwekking. Om Eskom se teikens uit hernieubare energie te bereik gaan meer as ’n miljoen hektaar se grond verg.
“Ons het die afgelope 100 jaar reeds 330 000 ha van ons beste landbougrond opgeoffer om steenkool te myn en te gebruik en na beraming gaan nog 450 000 ha deur steenkoolenergie geraak word. Om die energieplan se wind- en sonplase te bou gaan nog ’n miljoen hektaar in beslag neem,” het hy gesê. “Dan moet die transmissielyne nog gebou word.”
Mnr. Monde Bala, Eskom se hoof van elektrisiteitverspreiding, het gesê dit is juis om dié rede dat Eskom nou sy grond in die ou steenkoolvelde van Mpumalanga vir private instellings aanbied om hernieubare energie op te wek.
“Daardie gebied is die kern van ons kragnetwerk. Al die infrastruktuur vir elektrisiteitverspreiding is reeds daar.”
Deur hernieubare energie op te wek op grond wat reeds deur steenkoolenergie afgetakel is, beperk Eskom die vergroting van sy energiespoor en word nuwe werksgeleenthede geskep in dieselfde gebied waar mense wat in die steenkoolenergiesektor werk, dit binnekort nodig gaan hê.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.