Jacques van Zyl, sitrus-en-groenteboer van Tangelo Citrus Estates naby Swellendam, verrig sowat 80% van sy boerderypraktyke met die hulp van hommeltuie. “Dit sluit in bespattings, oesskattings en boomgesondheid. Al wat ons deesdae nog met die trekkers doen, is die hoëvolumebespuitings waarvan jy nog nie kan wegkom in die sitrusbedryf nie.”
Hy is al ’n hele paar seisoene besig met hommeltuigtegnologie op die plaas, en hoewel hy meesal kontrakteurs kry om die werk te doen, is Jacques onlangs as hommeltuigvlieënier opgelei. Die boerdery het nou sy eie hommeltuig aangekoop. “Ons het aanvanklik vlugte oor 1 ha gedoen, tot ek besef het dit werk goed. Daar het ek die gaping gesien. Sedert ons hommeltuie gebruik, het ons baie geld bespaar.”
Gewoonlik moes hulle bome stroop om die oeslading te bepaal. “Nou neem ons foto’s met die hommeltuie en kry die vrughoeveelhede en -groottes op ’n sigblad. Chemiese uitdunning is baie belangrik in die sitrusbedryf, en danksy die hommeltuie dun ons baie minder uit. Dit bespaar ons geld.”