Dit volg nadat die Hans Merensky-stigting R11 miljoen bewillig het aan die Merensky-navorsingsgroep van die UV vir luggeologiese beeldklassifikasie (MAGIC) vir verdere navorsing en die aankoop van hoëprestasierekenaars en hommeltuie.
Volgens dr. Martin Clark van die departement geologie aan die UV gebruik die MAGIC-groep meestal gewone en spektrale kameras (wat dele van die elektromagnetiese spektrum vasvang wat onsigbaar vir die menslike oog is).
Sulke kameras vergemaklik mineraaleksplorasie omdat dit ’n hoëresolusiekykie op rotsliggame bied. Dit maak dit makliker om te identifiseer waar om duurder tegnieke, soos boorwerk, te gebruik. Hommeltuie is nie-indringend en het geen tot min impak op die omgewing wanneer data ingesamel word.