Die kompleksiteit van Suid- Afrika se geografie, uiteenlopende klimaatstreke en weerstelsels kan weervoorspellers laat sweet, maar dié verskeidenheid maak ’n weervoorspeller se werk ook baie opwindend.
Me. Annette Botha, meteoroloog by Vox Weather, verduidelik Suid-Afrika se weerkompleksiteit en verskeidenheid só: Suid-Afrika word as ’n halfdroë land beskou, maar as gevolg van sy veranderlike topografie wissel die klimaat van woestyn en halfwoestyn in die droë noordweste tot subtropies en nat langs die oostelike kusgebied.
Klimaatstoestande verskil merkbaar tussen die oos- en weskus, grootliks as gevolg van die warm Agulhasseestroom langs die Indiese Oseaan en die koue Benguelastroom langs die Atlantiese Oseaan.