
Mense oral kan aanlyn kyk hoe SpaceX se Transporter-6-sending vanaf Cape Canaveral in Florida, Amerika, gelanseer word en Dragonfly Aerospace se EOS SAT-1 na ’n lae wentelbaan om die aarde dra. Landbou.com het voorheen berig die Stellenbosse maatskappy Dragonfly Aerospace het die EOS SAT-1 ontwikkel om data in te samel oor die landbou en bosbou.
Die hoëgehalte data sal doeltreffende en volhoubare praktyke in dié twee sektore ondersteun. EOS SAT-1 is met twee elektro-optiese DragonEye-beeldskeppers toegerus wat panchromatiese en multispektrale beelde oor 11 spektrale bande teen ’n resolusie van byna een meter sal verskaf in stroke van 44 km wyd. Dit sal dit een van die mees bekwame beeldsatelliete in ’n lae wentelbaan om die aarde maak.
“Beelde wat van Dragonfly se EOS SAT-1 verkry is, sal waardevolle inligting lewer vir oesmonitering, toedieningskartering, seisoenale beplanning en assesserings wat inligting soos grondvog, opbrengsvoorspelling en biomassavlakke ontleed. Hierdie data sal produsente ondersteun met die vermindering van koolstofdioksiedvrystellings en hulle help om volhoubare landboumetodes te ontwikkel,” lui ’n verklaring deur Dragonfly Aerospace.
"Sulke inligting sal belangrike omgewingsvoordele vir die planeet inhou en help om te voorkom dat natuurlike habitatte opgeoffer word vir gewasverbouing en om biodiversiteit te handhaaf." EOS SAT-1 is die eerste van ’n konstellasie van sewe satelliete vir EOS Data Analytics (EOSDA) in ’n lae wentelbaan. Die oorblywende ses satelliete van dié konstellasie sal oor die volgende drie jaar ontplooi word.
Mnr. Bryan Dean, medestigter en uitvoerende hoof van Dragonfly, sê dat sy maatskappy verheug is oor die vervaardiging van Suid-Afrika se eerste mikrosatelliet sedert 2009 en met hierdie satelliet se verskeie baanbrekende vermoëns en doelwitte.
“Dit was ’n belangrike projek vir ons hele span en het ons in staat gestel om ons vermoëns te demonstreer, nie net in die vervaardiging van hoëprestasie- elektro-optiese beeldtoestelle nie, maar in die ontwerp en vervaardiging van ’n volledige beeldsatellietstelsel. Ons sien opgewonde uit na die lansering van die SpaceX Transporter-6.
“Ons sien uit daarna om EOSDA te ondersteun met sy sending om die volgende ses satelliete teen 2025 te lanseer.” Klik hier om die SpaceX Transporter-6 lansering vanaf 16:45 (Suid-Afrikaanse tyd) te kyk.