
Dié tegnologie, wat op die wynplaas Leopard’s Leap buite Franschhoek bekend gestel is, gebruik kunsmatige intelligensie, fotografie van hoë resolusie in verskillende ligspektrums en ’n databasis van siektes en plae om simptome van siektes, plae en voedingstekorte op vrugtebome te identifiseer.
Die identifikasie geskied baie vroeër as wat dit met die blote oog gedoen kan word. Dit kan boere op die lang duur groot moeite en koste in plaagbestryding of onnodige kunsmistoediening bespaar.
Anders as met die visuele ontleding van satellietbeelde (remote sensing), wat oor die afgelope paar jaar begin veld wen in gewasboerdery, is Aerobotics se diens geskoei op inligting wat ingesamel word met hommeltuie wat op ’n hoogte van 1 meter bo die blaredak vlieg.
Die Aerobotics-programmatuur ontleed dan die beelde ingevolge ’n databasis om te bepaal waar daar probleme in die boord is. Sodra die kunsmatige intelligensie enige van die simptome gewaar, word die boer per selfoon gewaarsku.
programmatuur
Die hommeltuie kan ook enkele bome in ’n boord uitsonder en daarvoor ’n GPS-merker gee sodat hy daarna kan terugkeer vir bykomende ontledings. Tans is ’n span landboukundiges besig om die Aerobotics-programmatuur te leer hoe al die verskillende simptome van verskillende bakteries en siektes lyk.
Die simptoombeelde word gekoppel aan siektes en plae en só leer die programmatuur deurentyd watter letsels en simptome watter siekte, plaag of tekort is. Hoe meer inligting ingesamel word, hoe doeltreffender sal die identifikasieproses raak.
“Die grootste voordeel van die produk is die besparing op bestrydingskoste deur onnodige toediening uit te skakel, beter gehalte te verseker en verliese te beperk,” sê mnr. James Paterson, Aerobotics se uitvoerende hoof.
Mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê die gebrek aan inligting wat besluite oor natuurlike hulpbronne beïnvloed, is die grootste bedreiging vir die volhoubaarheid van die plaaslike landboubedryf.
BEGIN SOMMER NOU
Mnr. Hein Gerber, besturende direkteur van die konsultantegroep First Fruit, sê dit is belangrik om so vroeg moontlik die tegnologie in boerderye te begin gebruik.
“So gebruikersvriendelik soos wat die tegnologie is, is daar steeds opleiding en ’n leer- proses nodig. Ek raai boere aan om hierdie soort tegnologie so gou moontlik toe te pas sodat hulle nie agterbly namate die tegnologie ontwikkel nie.”
Mnr. Dirk Uys, ’n Bolandse boer, het op die bekendstelling op Franschhoek gesê dit staan bo alle twyfel dat hierdie die toekoms van vrugte-produksie is. “Die bemagtiging van ons werksmag in die gebruik van hierdie tegnologie sal bepaal of jy deel is van dié toekoms.”
Die tegnologie kos tans sowat R40 per hektaar per maand om toe te pas.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.