(agouwss@landbou.com)
Ruimtetegnologie is nou beskikbaar waarmee 'n veeboer in sy studeerkamer oor die internet of sy selfoon kan sit en kyk waar sy diere wei. Hy kan ook hul gedrag monitor, hul weipatrone identifiseer en heinings aan- en afskakel om hulle te beheer.
Met dieselfde stelsel kan verliese weens veediefstel en roofdiere beperk word. Waar weerlig 'n probleem is, kan die boer deur die aan- en afskakeling van heinings keer dat die vee onder hoë bome saamdrom waar hulle dalk getref kan word.
Dit is maar 'n paar van die moontlikhede van 'n stelsel wat oor jare heen ontwikkel en nou in bedryf gestel is om 'n bekostigbare geleentheid aan boere te bied om satelliettegnologie in te span om meer suksesvol te kan boer.
Mnr. Gert Meintjes van die onderneming Hotgroup sê die uitdaging was om 'n meerdoelige stelsel te ontwikkel waarmee diere se posisie en gedrag oor die internet of 'n selfoon dopgehou kon word. Die idee was om afwykings te monitor wat op diefstal, roofdieraanvalle of afwykings in wei- en ander gedragspatrone kon dui.
Dié inligting moes na 'n beheerpunt deurgesein kon word vir rekordhouding en optrede.
Die onderneming het besluit 'n halsband is die aangewese draer van die stelsel. Die volgende vereistes is vir die stelsel gestel:
- Dit moes doeltreffend werk.
- Dit moes teen misdadigers bestand wees.
- Dit moes die harde klimaat van Suid-Afrika kon deurstaan.
- Dit moes dier- en omgewingsvriendelik wees.
- Dit moes die boer se sak pas.
Die resultaat van die onderneming se navorsing en ontwikkelingswerk is 'n wye reeks halsbande, bolusse en implantate vir alle plaasdiere en wild. Daar is ook verskeie ander bybehore wat onder meer gerig is op plaaswerfbeveiliging, presisieboerdery, die voetslaan- en jagbedryf asook die monitering van werkers, voertuie, vraghouers en toerusting.
Die halsbande vir vee word uit 'n geweefde stof gemaak. Dit het 'n breeksterkte van 1,5?ton. 'n Band van vlekvrye staal is daarin vasgeweef om dit verder te versterk en dit om die dier se nek te vorm sodat dit gemaklik pas.
Verskeie veiligheidsfaktore is ingebou om te verseker dat die halsband sal losgaan as dit sou vashaak.
Aan die halsband is 'n klein kassie waarin sensors, senders en antennas ingebou is sodat dit met die boer oor die internet of 'n selfoon deur sy nasionale beheersentrum kan kommunikeer.
In dié kassie is ook unieke rekenaarprogramme ingebou. Die sagteware is spesiaal deur rekenaarkenners saam met 'n span dier- en plantkundiges van onder meer die Landbounavorsingsraad, die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde en private wildveeartse en -kenners geskryf.
Met die sensors word onder meer die diere se temperatuur, bewegingspoed en -rigting, hoogte bo seevlak, posisie, lyftaal en gedrag gemonitor.
'n Koei wat op hitte is se gedrag en lyftaal wyk aansienlik af van die normale. Só ook as sy kalf of siek is. Die rekenaarprogram registreer sulke buitengewone gedrag en stuur 'n sein deur na die boer, sy nasionale beheersentrum en sy sekerheidsonderneming.
Die gedrag van die dier word ook gemeet aan die tyd van die nag of dag om optredes te bepaal wat onnatuurlik is op daardie spesifieke tyd. Só kan diere geïdentifiseer word wat byvoorbeeld op hitte raak, koors ontwikkel en siek word of gaan kalf, lam of vul.
As 'n hele trop vee of 'n groep diere skielik in die nag onrustig raak, kan dit op die teenwoordigheid van diewe of roofdiere dui. Die boer word dan teen dié spesifieke bedreiging gewaarsku. Dié alarm word na die onderneming se beheersentrum, die boer se veiligheidsdiensverskaffer en die boer se rekenaar of selfoon gestuur (na gelang van die boer se eie behoeftes en omstandighede) sodat daar opgetree kan word.
Hierdie inligting word steeds aangevul en verfyn om die stelsel voortdurend op te knap en te verbeter.
Virtuele begrensing is nog 'n aanwending van die stelsel. Daarvoor word 'n draad in 'n bestaande heining gebruik of die boer kan 'n spesiale draad laat span of selfs onder die grond laat begrawe. Dié draad, wat 'n mens met 'n rekenaar, selfoon of skakelaar kan aktiveer, stuur 'n sein na die sensor aan die dier se halsband. Dit laat die halsband vibreer en 'n gepaardgaande supersoniese geluid maak as die dier die grens nader.
Dit is gewoonlik genoeg om die dier af te skrik en te laat omdraai. Hoe nader die dier aan die draad beweeg, hoe intenser word die vibrasie en die geluid. Uiteindelik kry die dier 'n ligte statiese "korreksie".
Indien die dier verder voortgaan, stuur die halsband 'n sein uit dat die dier uitbreek en staak dit die statiese korreksie.
Die breedte en hoogte van die grens is verstelbaar.
Om die stelsel te kan gebruik, kry boere opleiding om te verseker dat hulle die stelsel diervriendelik gebruik.
Van die stelsel se ander gebruike is om strookbeweiding op voergewasse onder besproeiing te bestuur en veld- en grondsoorte vir afsonderlike beweiding te skei. Dit stel die boer in staat om wetenskaplik te bepaal hoe hy sy veld of gewasse wil laat bewei en dit dan inderdaad presies só te doen. Dit beteken dat presisiebeweiding 'n werklikheid is
In proewe is gevind dat diere weidings met dié stelsel tot ses keer beter kan benut.
In gebiede waar weerlig 'n groot probleem is, kan jy sulke heinings om bome span om die diere weg te keer wanneer die weer swaar is. As die donderstorm verby is, skakel die boer net die heinings af sodat die diere weer vrylik onder die bome kan gaan koelte soek.
Met geografiese begrensing trek die boer 'n grens op die plaasplan op sy rekenaar (dié kartering is deel van die diens), byvoorbeeld op die grense van 'n kamp. Dan kan hy deur middel van satellietwaarneming die bewegings van elke dier met 'n halsband noukeurig volg. As 'n dier buite die grens beweeg, maak die stelsel alarm.
Die stelsel kan ook ingespan word om wild se bewegings te monitor, wild op te spoor en wildstroping aan bande te lê.
Meintjes sê boere wil graag boer en nie polisiemanne of veiligheidswagte wees nie. Baie van hulle voel om vir veiligheidsdienste te betaal, is 'n tweede belasting. Die omvang van vee- en wildverliese weens diefstal, roofdiere en rondloperhonde maak dit egter vir talle boere onmoontlik om sonder só 'n stelsel volhoubaar met veeboerdery aan te gaan.
Die stelsel doen selfs meer deurdat dit die boer se bestuurstelsels dramaties versterk.
Wildnavorsing en die bestuur, opsporing, identifikasie en beveiliging van wild speel ook 'n ál groter rol. Wildstroping floreer en die oplossings is min.
Hiervoor het die onderneming 'n reeks halsbande en implantate ontwikkel om boere te help. Daar is selfs halsbande vir olifante. Virtuele omgrensing kan ook hier ingespan word.
Van die implantate wat gebruik word, se seine kan tot 80?km ver opgevang word.
Die halsbande is só ontwerp dat die kragbron 36 tot 60 maande lank sal hou voordat dit herlaai hoef te word.
Weerkaatsende plaatjies en fluoresserende identifikasienommers is beskikbaar. Dit maak diere snags in die ligte van voertuie sigbaar. Die boer kan vee dus maklik in die donker identifiseer.
Die boer kan die stelsel ook gebruik vir die outomatisering en beskerming van stelsels op die plaas (byvoorbeeld besproeiing, hekke en kragkabels), kommunikasie, die dophou en bestuur van vlootvoertuie asook vir plaasveiligheid en toegangsbeheer.
Om groot hoeveelhede van die produkte te vervaardig, is spesiale toerusting ontwerp. Die modernste tegnologie is ingespan. Só was dit moontlik om bekostigbare halsbande te maak wat lig en omgewingsvriendelik is en aan talle internasionale standaarde en die vereistes van die Nasionale Etiekkomitee voldoen.
Verskillende opsies is beskikbaar om by elke boer se behoeftes aan te pas. Dit kan van R0,50 tot R345 per maand per dier kos, na gelang van die stelsel en die boer se behoefte. Die koste sal grootliks afhang van die soort dier, die hoeveelheid diere en troppe, die risikofaktore en watter bybehore benodig word.
Die boer moet 'n bruikhuurkontrak van 24, 36 of 60 maande en 'n diensooreenkoms met die onderneming aangaan. 'n Aansoekvorm is op die onderneming se webwerf beskikbaar.