
Kalb gaan sy kennis op die konferensie deel wat van 14 tot 16 Maart 2023 in die SunBet-arena in Pretoria plaasvind. Hy bedryf reeds meer as 35 jaar sy boerdery, Kevin Kalb Farms. Die boerdery is saamgestel uit ’n mielie-, sojaboon- en kalkoenvertakking.
Kalb word beskou as een van Amerika se topmielieprodusente. Hy het die nasionale mielie-opbrengskompetisie wat deur die nasionale mielieprodusentevereniging aangebied word, reeds 25 keer gewen. Hy is ook voorsitter van die Midwest Advanced Crop Consulting-program. Hy en mnr. Terry Vissing het die program ontwikkel om hul medeprodusente te help om hul opbrengste te verbeter.
Die Kalb-familie is bekend in Amerikaanse landbougeledere met Kevin wat vroeg reeds een van die gunsteling-produsente op die TV-reeks Corn Warriors was. Hy is nou te sien in ’n nuwe TV-reeks, Live to Farm, wat konsentreer op die wel en wee van Kalb en sy vriend mnr. Brooks Cardinal.
Vir Kalb is die grondslag van sy sukses blaarmonsters. Die inligting wat hy hieruit verkry, bepaal sy bemestingsprogram. “Alles wat ek doen, word op die neem van blaarmonsters gegrond. Ek raai nie meer nie. Hoë-opbrengsmielies benodig gebalanseerde voedingstowwe wat toegedien word wanneer die plant dit die nodigste het.”
Vir Suid-Afrikaanse mielieprodusente is hierdie ’n geleentheid om te leer by ’n medeboer om hul eie besighede te bevorder.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.