
Mnr. Andries van Tonder van AECI Plantgesondheid het op die onlangse Fresh Solutions-byeenkoms van die internasionale varsproduktevereniging (IFPA) vertel hoe hierdie nuwe tegnologie dit moontlik maak om gesonde voedelgewasse te produseer, terwyl die gebruik van onnodige chemikalieë beperk word.
Agroscout bied ’n outonome, kunsmatige-intelligensie- (AI) stelsel waardeur ’n hommeltuig gebruik word om plantplae en -siektes te identifiseer.
“Deur masjienleertegnologie word derduisende foto’s van ’n gesonde blaar van ’n spesifieke gewas in die stelsel gevoer. Wanneer die stelsel dan weet hoe ’n gesonde blaar lyk, begin ons meer as 10 000 foto’s invoer van byvoorbeeld vroeëroes, en dieselfde vir elke siekte of plaag wat daardie plant bedreig,” het Van Tonder gesê.
Agroscout gebruik hommeltuig- en kamerategnologie wat ’n mens van die rak af kan koop om landerye en boorde van hoek tot kant te verken op voorafgeprogrammeerde vlugplanne.
Die stelsel bied plantvlakverkenning teen minimale koste en doen dit boonop vinnig. Besmette dele word met presiesheid gemerk en behandeling word deur die sagtewarestelsel aanbeveel.
Slim algoritme
“Nadat inligting in die Agroscout-webwolk gelaai is, begin die algoritme elk van die honderde foto’s evalueer en dan word ’n uitvoerbare verslag saamgestel,” het Van Tonder gesê.
Weer en ander data kan by verkenningsresultate ingesluit word om ’n geheelbeeld van plante se toestand te skep.
“Benewens plaag- en siekteverkenning leer ons die algoritme ook om die plant self waar te neem. Dit gee dus ’n beter oorsig van die loofoppervlak van elke plant. Dieselfde geld plantestand. By jong plante kan die algoritme individuele plante waarneem en tel.”
Om ’n siekte soos laatroes waar te neem en aan te meld is niks besonders nie, maar, het Van Tonder gesê, omdat foto’s ruitverwysings het, is dit maklik om die probleem se presiese plek in jou boord te kry en te behandel. “Die boer en sy konsultant kan nou na die spesifieke kol of plant toe loop deur die Agroscout- mobiele toep te gebruik en hul energie en hulpbronne op die probleemarea bestee pleks daarvan om die hele plaas vol te ry en probleme te probeer identifiseer.”
Deur plae en siektes vroegtydig waar te neem, te identifiseer en spesifieke toedienings vir die besmette gedeelte aan te beveel, help Agroscout boere om minder op chemiese middels te bestee en terselfdertyd beter opbrengste te behaal.
Besoek www.agro.scout.com om meer te leer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.