
Nou voorspel ontleders verkope van dié gewilde tegnologie gaan teen 2030 nagenoeg $11 miljard wees.
GlobalData, ’n toonaangewende data- en ontledingsmaatskappy, se jongste verslag, Robotics in Agriculture, beklemtoon die sleutelrol wat robotika speel in presisielandbou, terwyl dit ook die sektor in ’n tegnologiese omwenteling inlei.
Presisielandbou verwys na die toediening van landbouchemikalieë op ’n wyse wat vermorsing en besoedeling tot die minimum beperk. Dit is ook ’n belangrike oplossing vir die groeiende vraag na voedsel en kunsmis.
“Robotte kan oes, vrugte pluk, onkruid uittrek, vee melk, kunsmis toedien en plaasbedrywighede monitor,” sê me. Rachel Foster Jones, tematiese ontleder by GlobalData.
“Robotika sal dus die sleutel wees om te help om arbeidstekorte te verlig, druk op natuurlike hulpbronne te verminder en in die wêreldwye vraag na landbouprodukte te voorsien. Dit sal die sektor ook help om by klimaatsverandering aan te pas.”
Veldrobotte kry ’n stewige teenwoordigheid in die landbousektor. Dit word reeds deur derduisende boere wêreldwyd ingespan. GlobalData dui aan dat die globale robotikamark in 2020 $45,8 miljard werd was en teen ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 29% van 2020 tot 2030 sal groei. Teen 2030 kan dit $568 miljard werd wees.
Hommeltuie
Die verslag voorsien ook dat kommersiële hommeltuie in die volgende paar jaar militêre hommeltuie sal verbysteek en dat landbouhommeltuie een van die grootste bron van inkomste sal wees.
Landbouhommeltuie is onbemande tuie wat in boerdery vir opbrengsoptimalisering en -monitering gebruik word.
“Die Chinese hommeltuigbedryf is die grootste ter wêreld en baan die weg vir landbouhommeltuie wat beeld- en opmetingstake kan verrig, terwyl gewasse bespuit en terreine voortdurend gemonitor word,” sê Jones.
Die verslag toon ook dat werksgeleenthede in die landbousektor in robotikaverwante bedrywe aansienlik toeneem. Volgens GlobalData se personeelaanstellingsbasis het robotikaverwante vakatures van September 2019 tot September 2022 met 80% toegeneem.
“Die landbousektor raak ál meer bewus van die potensiaal van robotika, terwyl tradisionele landboumaatskappye hul interne kundigheid deur robotika verbeter en behou.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.