
Die satelliet is by die maatskappy se aanleg in Stellenbosch ontwerp en vervaardig. Dit is die eerste van sewe satelliete wat in ’n konstellasie om die aarde vir sy kliënt, EOS Data Analytics (EOSDA), sal wentel. Die oorblywende ses satelliete sal oor die volgende drie jaar ontplooi word.
Luidens ’n verklaring deur Dragonfly sal EOS SAT die eerste satellietkonstellasie ter wêreld wees wat op die landbou toegespits is. Dit sal hoëgehalte data oor die landbou en bosbou verskaf te einde doeltreffende en volhoubare praktyke te steun.
Die beeldmateriaal wat EOS SAT-1 lewer, sal volgens Dragonfly waardevolle inligting verskaf vir oesmonitering, toepassingkartering, seisoenale beplanning en die beoordeling van inligting rondom grondvog, oesskattings en biomassa.
“Die data sal produsente help om koolstofvrystellings te verminder en volhoubare landboumetodes te ontwikkel sonder dat hulle geld verloor. Sulke inligting sal belangrike omgewingsvoordele vir die planeet inhou en voorkom dat natuurlike habitatte ter wille van meer aanplantings verminder word.”
Mnr. Bryan Dean, uitvoerende hoof en medestigter van Dragonfly Aerospace, sê die ontwerp en vervaardiging van die EOS SAT-1, die eerste satelliet wat sedert 2009 in Suid-Afrika vervaardig is, is ’n belangrike projek vir sy hele span en het hulle in staat gestel om te wys waartoe hulle in staat is.
“Dit is ’n ongelooflike gevoel om te sien hoe EOS SAT-1 ons perseel verlaat en die volgende stap in sy reis bereik om noodsaaklike data te voorsien waarby ons planeet sal baat vind. Ons sien daarna uit om die EOSDA-sending te steun met die lansering van die volgende ses satelliete teen 2025.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.