
Die TLU SA het namens elektrisiteitsverbruikers in die landbousektor 'n voorlegging tydens 'n sitting van die Nasionale Energieregulator van Suid-Afrika (NERSA) oor Eskom se voorgestelde 34% tariefverhoging, gemaak.
Omdat die landbousektor voedselprodusente is, het die betroubare en bekostigbare voorsiening van elektrisiteit 'n groot invloed daarop, het mnr. Barry Stieger van die TLU SA in die voorlegging gesê. Huishoudings en industrieë sal negatief deur Eskom se voorgestelde tariefverhoging beïnvloed word.
Dit sal ook tot hoër insetkostes in die landbou lei terwyl dit juis nou belangrik is om bekostigbare kos van goeie kwaliteit aan verbruikers beskikbaar te stel. Die TLU SA het voorgestel dat, in belang van die landbou, 'n tariefverhoging van 3% tot 6% oorweeg word.
As deel van Business Unity South Africa (Busa) het AgriSA ook sy bydrae gelewer. Busa is van die mening dat die voorgestelde tariefverhoging 'n kort termyn oplossing vir 'n lang termyn probleem is. Volgens Busa se voorlegging is die inligting oor dié verhoging wat beskikbaar gestel is, nie genoeg om 'n voldoende ondersoek te doen nie. Volgens Busa aanvaar hulle dat pryse oor 'n tyd geleidelik moet verhoog.
Dit moedig beleggings in die nywerheid aan en om energie doeltreffend te gebruik wat dit moontlik maak om doelwitte vir klimaatsverandering te behaal. Maar, die proses moet wel deur 'n deursigtige omgewing wat sekerheid en voorspelbaarheid aanmoedig, ondersteun word.
10 Junie 2009