
Een van Suid-Afrika se bekendste boere, mnr. Tot Pienaar van Klipplaatsfontein, Colesberg, het ’n werkbare plan bedink om nuwe boere te vestig.
Pienaar se plan is in die vorm van ’n konsessie (franchise) wat hoofsaaklik op nuwe skaap- en beesboere gemik is. Dié konsessie heet The Shepherd. Hy sê dit moet op die beginsels van bekende bedryfsregondernemings, soos Wimpy en Kentucky Fried Chicken, werk. Mense wat dié konsessie koop, sal die reëls daarvan moet nakom.
As hoogs ervare Merinoboer is Pienaar se fokus in dié projek op skaapboerdery, die belangrikste boerderybedrywigheid in sy omgewing. Hy beoog om The Shepherd vanaf Januarie 2015 te bemark, maar het van die elemente daarvan met Landbou.com gedeel.
* Slegs nuwe, opkomende boere kan vir ’n konsessie aansoek doen en hy word dan ’n konsessie-houer ná goedkeuring.
* Die konsessie-eienaar sal dié nuwe boer van meet af monitor en van raad bedien.
* Die konsessie-eienaar sal die produksiemiddele, soos saad, bemestingstowwe, voer en veegesondheidsmiddels, in groot maat aankoop en onder die konsessiehouers versprei. Daardeur sal meer werk geskep kan word.
* Die welslae van ’n konsessie sal gemeet word aan vyf punte: Bemarking, finansies, produk (die dier), die plaas (fabriek) en die mense.
* Konsessie-eienaars sal aan dieselfde stel reëls moet voldoen.
* Voornemende boere sal kan aansoek doen om ’n konsessie teen ’n billike prys te bekom. Die konsessie-eienaar sal vir finansiering met banke en/of die staat onderhandel.
* Laastens sal die nuwe voornemende boer ’n boerderykursus van twee maande moet ondergaan, sodat vasgestel kan word of die aansoeker aangelê is om te boer, sê Pienaar. Die kursus behels die teorie en praktyk van boerdery. Die fooie vir dié opleiding sal ook deur die konsessie-eienaar by die staat beding word.
** Pienaar was een van die mense wat pas ’n geskiedkundige vergadering bygewoon het tussen verteenwoordigers van die Regering, die land se voorste kommersiële boere en ander belanghebbendes in die landbou. Dié byeenkoms is bygewoon deur mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal en die Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana.
Op die byeenkoms het Pienaar gesê sonder mentors is die vestiging van nuwe boere ’n sinkende skip. Dit is soos om ’n tweejarige agter die stuur van ’n motor te sit, het hy aan die uitgelese gaste gesê. Pienaar het aan Landbou.com gesê dat ’n boerdery ’n ingewikkelde bedryf is. “Op ’n besoek aan die vrugteboer, mnr. Rossouw Cillié van Ceres, het ek net weer besef dat ek bitter min weet van dié soort boerdery wat hy bedryf. Ek het dieselfde ervaring gehad op ’n besoek aan die Van Loveren-landgoed van die Retief-broers by Robertson.” Dit spreek boekdele dat Pienaar reeds vóór 1994 ’n boeredag op sy plaas Klipplaatsfontein aangebied het waar nét die swart hoofde van die verskillende afdelings van sy boerdery opgetree het. En dit voor ’n gehoor van nagenoeg 200 kommersiële boere van oor die land, waar hulle vertel het hoe hulle hul take verrig, en vrae van die boere moes beantwoord. * Kontak Andries Pienaar by: 051 753 3003051 753 3003 of by Mega Merino’s (merinoonestop@bokaroo.co.za)