
’n Nuwe belanghebbende in die kunsmisbedryf het nog net een groot leweringseisoen verlede jaar agter die blad, maar is gereed om op die welslae van die oorspronklike maatskappy voort te bou.
Die “nuwe” Triomf-kunsmis doen die afgelope twee jaar op die oorspronklike perseel van die eertydse Triomf-kunsmismaatskappy op Potchefstroom sake. Hy sal eers ná Mei aanstaande jaar kan bepaal op watter mark-aandeel hy kan aanspraak maak.
Dr. Louis Luyt, stigter van die oorspronklike Triomf-kunsmismaatskappy, is verlede jaar in die ouderdom van 80 oorlede. Sy onderneming het bykans ’n vyfde van die kunsmismark bedien.
Sedert die vroeë 1980’s het die bedryf gerasionaliseer en inkrimpings beleef. Luyt se Triomf was een van die grootste vervaardigers wat in daardie tyd verdwyn het.
Die fabrieksperseel op Potchefstroom het ná die sluiting van die eertydse maatskappy verskeie keer van hande verwissel voordat Africom dit bekom het.
Triomf is ’n filiaal van Africom Commoditities, ’n houermaatskappy van 16 maatskappye wat in die landbou bedrywig is, onder meer in diensverskaffing en vervaardiging.
Onder aanvoering van mnr. Jannie Willemse, besturende direkteur van Triomf Trading, word verskeie produkte vervaardig, soos vloeibare kunsmis, korrelkunsmismengsels en spesialiteitsprodukte.
Die maatskappy het pas ’n nuwe kunsmis, NitroPlus, bekend gestel. Dit word deur Triomf beskryf as die land se eerste ware eenkorrelkunsmis.
Die produksie daarvan is met die bekendstelling van die nuwe miltimiljoenrand-aanleg op Potchefstroom begin.