
’n Aartappeldrankie is nou bygevoeg tot die wêreld se groeiende lys van drankies uit plante wat as alternatief vir melk kan dien. Die basis van die drankie is aartappels, en daar is drie soorte van die drankie. Dit word bemark onder die DUG-handelsmerk. Prof. Eva Tornberg van die departement voedseltegnologie, ingenieurswese en voeding aan die Universiteit van Lund in Swede was aan die voortpunt van die ontwikkeling van die drankie.
Die webwerf van die DUG-handelsmerk, wat deur die Sweedse maatskappy Veg of Lund besit word, sê dat “DUG ’n heerlike, romerige en veganis-vriendelike drankie is. Dit word van aartappels gemaak, het ’n baie lae klimaatspoor en kan soos enige ander melk gebruik word.”
Die webwerf voeg by dat DUG-drankies nie bloot geproduseer word deur aartappels uit te druk nie, maar eerder ’n “geheime metode” vereis: ’n gepatenteerde emulsie van aartappels en raapsaadolie wat deur Tornberg ontwikkel is. Dit is noodsaaklik om te verseker dat wanneer dit as ’n melkalternatief gebruik word, soos in koffie, tee, om te bak en te kook, die bestanddele in DUG-drankies nie skei nie.
Die aartappels wat in die vervaardiging van DUG-drankies gebruik word, word deur die handelsmerk beskryf as ’n “super-volhoubare gewas” in vergelyking met die produksie van sojabone, amandels en hawer, wat almal reeds gebruik word in die vervaardiging van ander alternatiewe vir melk wat uit plante gemaak word, en in vergelyking met die produksie van melk.
“Wat grondgebruik betref, is dit twee keer so doeltreffend om aartappels te kweek as om hawer te kweek. As jy suiwelmelk met die aartappeldrankie vergelyk, is die klimaatspoor van die aartappeldrankie aansienlik laer. In vergelyking met amandels het aartappels baie minder water nodig om te groei; trouens, 56 keer minder,” haal die DUG-webwerf verskeie bronne aan.
DUG se drie drankievariante is Original vir veeldoelige verbruik, Barista wat na bewering romerig en skuimbaar is vir gebruik deur veral koffieliefhebbers, en Unsweetened wat geen bygevoegde suiker bevat nie.
DUG is tans net in winkels in Swede en Brittanje beskikbaar, maar kan aanlyn gekoop word.