
Die uitvoer van Sandveldse aartappels na bestemmings, soos Angola en Namibië, groei goed. Verlede jaar is 4,3 miljoen sakkies tafelaartappels van 10 kg per pad na dié lande uitgevoer.
Daar heers egter kommer dat aartappelproduksie op die lange duur nie volhoubaar in die gebied sal wees nie, sê mnr. Joos Engelbrecht, voorsitter van die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie (Sako). Hy het op dié organisasie se jaarvergadering op Velddrif gesê aartappelverbouing in die Sandveld raak duur, produsente is uitgelewer aan al hoe meer risiko’s en ál meer produsente verlaat die bedryf.
Die totale hoeveelheid hektare onder tafelaartappels en moere in die Sandveld het van 7 128 ha in 2003 tot 5 686 ha verlede jaar gedaal. In dieselfde tyd het die aantal produsente van 148 tot 90 afgeneem. Veral die drastiese afname in moerproduksie is ’n bekommernis.
Net vanaf 2008 tot verlede jaar het die aantal hektare vir moerproduksie met 1 022 afgeneem. Produksiekoste in die streek het die laaste drie jaar heelwat geklim. Dit het in Julie verlede jaar R111 665 per hektaar gekos teen ’n opbrengs van 4 200 sakkies per hektaar.
lees ook:
16 April 2010