
Dis tans reeds 50% duurder om kunsmis en plaagbestryding op aartappels in die Sandveld toe te pas as die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Mnr. Jan van Zyl, aartappelboer van die Sandveld en uittredende voorsitter van die Sandveld-aartappelkwekersorganisasie (Sako), het sy kommer uitgespreek oor hierdie situasie in sy laaste voorsittersrede op Sako se jaarvergadering op 25 November op Malkoppan buite Lambertsbaai.
Hoewel dié 50%-toename in die pryse van kunsmis en chemiese middels waarskynlik ’n tydelike neiging is weens die probleme in die wêreldwye verskepings- en verspreidingsnetwerke, is die werklikheid dat produksie-omstandighede in die Sandveld in die toekoms steeds moeilik sal wees, al normaliseer die insetpryse.
“Vanjaar is die tiende jaar agtereenvolgens dat die kosteknyptang die hoofgesprekstema op Sako se jaarvergadering is. As hierdie neiging voortduur, sal ons binnekort nie meer in die winter in die Sandveld winsgewend met aartappels kan boer nie. Teen die pryse van die afgelope paar weke (R30 tot R35 per 10 kg-sakkie) sal ons in die komende winter reeds nie meer winsgewend kan boer nie.”
Eskom bring onsekerheid
Eskom se onsekerheid vryf verder sout in die wonde. “Ruraflex se voordele word deur beurtkrag in die wiele gery. Ons moet ’n groot kapitaaluitgawe aangaan om kragopwekkers by pompe en spilpunte staan te maak.” Hierdie kapitaal is onproduktief en word slegs aangewend vir die tyd dat beurtkrag toegepas word. Daarbenewens raak brandstof al hoe duurder met die departement wat ’n bykans 5%-styging in die brandstofprys vir Desember aangekondig het.
Die produksie-omstandighede, hoewel gunstig, bring ook baie probleme met siektes. Sommige boere is swaar deur poeierskurf getref en tot 80% van sommige oeste is die afgelope winter mee besmet.
Al hierdie faktore erodeer die wins van produsente in die Sandveld. “Al wat vir ons ’n beter winsmarge gaan verseker, is deur die vraag-en-aanbodmeganisme te gebruik. Ons sal moet minder plant. Moenie die mark as ’n stortterrein beskou nie en kommunikeer doeltreffend met jou agente. Die stelsel werk uitstekend en elkeen van ons het ’n uitwerking op die stelsel. Maak seker jou invloed is voordelig.”