
Wetenskaplikes is ook bekommerd oor die doeltreffendheid van die geregistreerde insekdoders wat die motte moet bekamp.
Volgens CropLife SA is die hoofsondaars twee motspesies: die aartappelmot (Phthorimaea operculella) wat blaar- én knolskade veroorsaak, en die tamatieblaarmyner (Phthorimaea absoluta, voorheen bekend as Tuta absoluta), wat skade aan blare veroorsaak. Die motte rig skade aan die Solanaceae-familie aan, wat tamaties, aartappels en tabak insluit en kan ook by onkruide in dieselfde familie aangetref word. Albei spesies was volop sigbaar tydens onlangse veldbesoeke aan produksieareas in Limpopo.
Doeltreffendheid
Aartappel SA het ’n navorsingsprojek begin om die doeltreffendheid van bekampingstrategieë van die motte te bepaal.
In die studie, uitgevoer deur prof. Hannalene du Plessis en haar span van die Noordwes-Universiteit, is die doeltreffendheid getoets van die vier algemeenste insekdoders, wat vier verskillende werkswysegroepe verteenwoordig soos bepaal deur Croplife se komitee vir plaagdoderweerstand (IRAC). Die aartappelmot se gevoeligheid vir die chemikalieë is in laboratoruimtoestande getoets met internasionaal erkende metodes. Die tamatieblaarmyner is nie by die navorsing ingesluit nie.
Die volgende vier insekdodergroepe is getoets.
- Organofosfaat (IRAC 1B): Asinfos-metiel.
- Piretroïed (IRAC 3A): Lambda-sihalotrin.
- Chitienbiosintese-inhibeerder (IRAC 15): Lufenuron.
- Natriumkanaalblokker (IRAC 22A): Indoksakarb.
Die uitslag van die studie toon dat die aartappelmotte wat in die Sandveld en die Limpopoproduksie-areas ingesamel is ’n verskuiwing in gevoeligheid toon vir drie van die werkswysegroepe, naamlik organofosfaat, piretroïed en chitienbiosintese-inhibeerder. Indoksakarb toon steeds die verwagte doeltreffendheid teen die geregistreerde koerse.
Diamied (IRAC groep 28) wat ook algemeen teen die plaag gebruik word, is nie by die assessering ingesluit nie.
Aartappels SA en CropLife SA is bekommerd oor die ontwikkeling en stel die volgende bekampingstrategieë voor om skade deur die aartappelmot en die tamatieblaarmynermot te verminder.
- Verseker doeltreffende dekking vir die gewas wat met insekdoders behandel word. Dit word vermag deur toerusting wat deeglik gediens word, asook deur die regte watervolumes in die spuitmengsels te meng. Hulpmiddels (adjuvant) kan gebruik waar dit geregistreer is.
- Moenie insekdoders deur middel van deurdrenk- of druptoediening toedien as dit nie so geregistreer is nie.
- Ondersoek gewasse gereeld en monitor die plaagpopulasievlakke regdeur die produksieseisoen. Tref beskermingsmaatreëls en doen regstellende stappe wanneer toenames waargeneem word.
- Roteer die werkswysegroepe volgens die IRAC-riglyne (https://irac-online.org/pest-library/lepidoptera/)
- Individuele produsente moet hul spuitprogramme aanpas om te voorkom dat opeenvolgende insekgenerasies blootgestel word aan dieselfde werkswysegroepe.
- Gebruik slegs insekdoders wat geregistreer is vir gebruik teen aartappelmot- en tamatieblaarmynermotkomplekse en hou streng by die instruksies op die etiket.
- Oefen goeie saniteringspraktyke uit wanneer besmettingsbronne soos ou produksievelde en aartappelhope verwyder word.
- Vermy krake in die grond om te voorkom dat aartappelmotte die knolle bereik deur besproeiing te skeduleer of die krake meganies toe te maak.
- Stel goeie operdpraktyke in.
Kontak mnr. Dirk Uys, Aartappels SA se streeksadviseur, by dirk@potatoes.co.za vir nog inligting.