
Al val baie reën tans veral in die Vrystaat, verwag Aartappel SA geen krisisse met die aartappelaanbod van jaar nie.
Mnr. Ernst Yzel, voorsitter vir organisasie, sê daar is wel dele van oeste wat tans vrot, “maar die dele wat nie vrot nie se aartappels is so goed dat dit opmaak vir dit wat verloor word”.
Yzel sê ‘n groot oes word steeds verwag, en pryse aan boere kom steeds teen R20 per 10kg-sakkie, of soms selfs laer, in.
Oestyd
Volgens Yzel is dit tans in die Louwna- en Vryburg-distrikte in Noordwes, in die Petersburg-omgewing in die Vrystaat, in die Sandveld in Noord-Kaap en in KwaZulu-Natal, aartappel oestyd.
“Ons weet dat die ouens op Petersburg die afgelope tyd baie reën en dalk skade gely het, maar ons kan nie eintlik sien dat enige krisisse rondom voorraad gaan ontwikkel nie,” aldus Yzel.
Kleiner oeste
Intussen meen prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom verbonde aan die Vrystaatse Universiteit, weens die baie reën wat geval het kan kleiner oeste in veral groentes wat ondergrond verbou word – soos aartappels – voorkom.
“Heelwat groentes word ondergrond verbou, grondbone en wortels ook, en die baie reën kan skade, kleiner oeste en gevolglik hoër pryse veroorsaak,” vertel Willemse.
Volgens Willemse ondervind aartappelboere in die Vrystaat tans uitdagings om hul oeste uit die grond te kry. “Van Donderdag (20 Januarie) af het tussen 100mm en 200mm reën in die Bloemfontein-omgewing geval en daar is boere wat skade gely het.”
Willemse sê die skade en moontlike verlies aan inkomste kon wel nog nie bereken word nie.
25 Januarie 2011