
Die blitsbesoek is afgelê voordat Katyrin hom aangesluit het by die Brics-beraad wat van 25 tot 27 Julie in Gauteng gehou is.
Die Russiese mark is ’n belangrike vennoot vir die plaaslike sitrusmark. Mnr. Jaco Burger, uitvoerende hoof van Market Demand Fruits (’n verpakker en uitvoerder van sitrus in die Wes-Kaap), sê dié sakeverhouding gaan in die toekoms net belangriker raak. “Die verskillende lande het almal verskillende voorkeure. Vrugte wat nie in die Europese markte ’n vraag het nie, het wel in die Russiese markte ’n plek. Ons werk hard om hierdie verhoudinge te bou en om vir Sergei hier te hê, bou baie vertroue in die waarde wat Rusland aan Suid-Afrikaanse landbou en veral ons sitrusbedryf heg. Ons voer tans 20% van ons vrugte daarheen uit en in die toekoms kan dit waarskynlik verhoog.”
Die mening dat Rusland ’n stortingsterrein vir swak vrugte is, is iets van die verlede, sê Burger. Rusland se invoerprotokol is strenger as ooit te vore. Een van die grootste probleme wat die plaaslike bedryf tans ervaar, is om aan die uitvoervoorskrifte na Rusland, ingevolge die vereistes vir die Eurasiese Ekonomiese Unie (EEU) te voldoen.
Lande waar dié vereistes geld, is Rusland, Belarus, Armenië, Kazakhstan en Kirgistan. Volgens die vereistes moet onder meer die ontvanger van die vrugte op elke kartonhouer aangedui word.
Moontlikhede vir vrystelling
Mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), sê dit is ’n bykomende vereiste benewens die volledige inligting wat reeds deur Suid-Afrikaanse uitvoerders en produsente op die kartonhouer aangebring moet word. “Hierdie vereiste geld nie slegs Suid-Afrika nie, maar vir alle lande wat kos en drank na EEU-lidlande uitvoer. Ons probeer kyk of Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics kan lei tot vrystelling vir plaaslike uitvoerders.”
Hy sê dit is nie ’n kwessie wat deur bedryfsorganisasies opgelos kan word nie, aangesien dit ’n amptelike aangeleentheid tussen regerings is. Bedryfsorganisasies, soos die FPEF, die Sitruskwekersvereniging, en Hortgro, se rol is om die probleem uit te lig en met voorstelle en versoeke te kom oor moontlike oplossings. “Ons lê hierdie voorstelle voor aan onder meer die Russiese sakekamer, die Suid-Afrika-Rusland-besigheidsraad, die Departement van Handel en Nywerheid, die Suid-Afrikaanse ambassade in Moskou en ander belanghebbendes,” sê Kruger.
Die aanvanklike versoek van Suid-Afrika se kant af was volgens Kruger dat die EEU die volledige stel uitvoerdokumente, wat in elk geval saam met elke besending gestuur word, as voldoende moet aanvaar. “Suid-Afrikaanse uitvoerders het ’n proeflopie daarmee gedoen, maar dit was nie aanvaarbaar nie. Ons volgende versoek was dat die digitale naspeurbaarheidstelsels wat reeds plaaslike gebruik word, aanvaar word. Dit is tot op hede nog nie aanvaar nie.”
Die gedrukte plakkers vir elke verskeping wat tans gebruik word, is volgens mnr. Mikhail Fateef, die Sitrusprodusentevereniging se verteenwoordiger in Rusland, ook vir Russiese invoerders ’n tameletjie. “Eerstens is daar elke nou en dan ’n spelfout weens die verskillende skrifstelsels. Tweedens is dit moeilik om vrugte van die hand te sit wanneer dit op die hawens in Rusland land as dit aan ’n sekere aankoper gestuur is wat dit om een of ander rede nie meer wil hê nie. Wanneer hierdie inligting op die kartinhouers aangebring is, kan dit nie deur doeane vrygelaat word as die gespesifiseerde ontvanger nie die instelling is wat dit in Rusland ontvang nie.”
Die Russiese afvaardiging, wat Katyrin, mnr. Wladimir Padelko, ondervoorsitter van Rusland se sakekamer, en mnr. Wladimir Strasjko, direkteur van die Russian World Trade Centre, ingesluit het, het begrip gehad vir hierdie probleem. “As die bedryf weer hierdie situasie op skrif kan sit en dit aan die sakekamer kan rig, sal ons dit met die betrokke besluitnemers in Rusland opneem,” het Katirin gesê.Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.