
Mnr. Pieter Buys, die voorsitter van SAMGA, het op ’n onlangse mangodag in Tzaneen gesê onafhanklike navorsing het gevind daar word nagenoeg 140 000 ton mango’s per jaar in Suid-Afrika verbou. Dit is amper dubbel soveel as die 80 000 ton waarvoor lede van die kwekersvereniging verantwoordelik is.
Van die ander 60 000 ton word omtrent 14 000 ton van hierdie mango’s versap en gedroog, terwyl die res alles aan die atcharbedryf gelewer word. Die produsente van hierdie mango’s is hoofsaaklik informele, opkomende boere.
Buys sê die interessante is dat die omvang van die informele mangobedryf aan die lig gekom het toe die vervaardigers van die drankie, Amarula, begin kla het omdat hulle nie meer mense kry om maroelavrugte op te tel en aan hulle te lewer nie.
“Hierdie informele maroela-optellers het oor die jare heen hul eie mangoboorde aangelê. Noudat hul bome in produksie kom, is hulle besig om mango’s te oes wanneer die maroelas opgetel moet word.”
Boere woeker
In die formele sektor het dinge ook nie stilgestaan nie en Suid-Afrika se aanplantings het van 2015 tot verlede jaar met 3 000 ha toegeneem. Dit het bygedra tot effens swakker pryse vir die oes van 2017-’18.
Buys sê Suid-Afrika se mangobedryf het ’n nuwe era betree en boere sal alles in die stryd moet werp om meer vrugte teen beter pryse te verkoop. “Dit gaan beteken dat ons ons mango’s met meer erns moet bemark, nie net twee weke voor die oes nie,” sê hy.
Daarom het hy onlangs met Amerika se Nasionale Mangoraad gepraat. Hulle het in 2008 ’n opname gedoen en bevind meer as 70% van die Amerikaanse bevolking weet nie dat ’n mens mango’s in Amerika kan koop nie. Dieselfde opname vanjaar het gewys dat 70% van dié land se mense nou weet hulle kan mango’s daar koop.
“Dit is wat ’n mens met aggressiewe bemarking kan vermag. Vir elke dollar wat Amerika se mangoraad uitgee, kan hulle rekenskap gee vir 17 dollar se ekstra verdienste uit mango’s. Dit is waarna ons moet streef.”