Suid-Afrika se
grootste wynmaatskappy, Distell, het verras met die aanstelling van 'n
Australiër as die hoof van sy wynmaakspan. JACQUES CLAASSEN het met hom gaan
kennis maak.
Anders as in 'n sekere Europese land waar die meeste wynmakers
meer ingestel is op hul middagetes en hul subsidies, is die Suid-Afrikaanse
wynmakers meestal hardwerkend en toegewyd. Só sê die Australiër mnr. Linley
Schultz, Distell se nuwe groep-wynmaker en hoof van dié maatskappy se 25
wynmakers.
"Die meeste plaaslike wynmakers het 'n deeglike algemene kennis,
is goed opgelei en berese, terwyl hulle ook ontvanklik vir nuwe idees is. Boonop
is hulle baie ingestel op deeglike wingerdbou - wat 'n goeie ding is."
Hy sê
dit is in 'n sekere opsig 'n voordeel dat Suid-Afrika se wyndruiwe nog grootliks
met die hand gepluk word. Wanneer die weer tot skimmel of vrot in die
wyndruifoes lei, kan net die goeie trosse gepluk word. "In Australië, Frankryk
of Kalifornië, waar bykans alle wyndruiwe meganies geoes word, is dit nie
moontlik om besmette trosse in die wingerde agter te laat nie."
Op 37-jarige
ouderdom het mnr. Schultz, wat voorheen vir die Australiese groep BRL Hardy
gewerk het, al heelwat ondervinding opgedoen van internasionale markte en die
ontwikkeling van internasionale handelsname, waaronder Banrock Station.
Hy
reken talle wynmakerye (insluitend Distell) het nog nie genoeg oor hul
portefeulje van kultivars nagedink nie. Hy wys byvoorbeeld daarop dat die Two
Oceans-reeks uit 'n Cape Red, 'n Cape White, 'n Sémillon-Chardonnay-versnit, 'n
Sauvignon blanc, 'n Cabernet-Merlot-versnit en 'n Pinotage bestaan. "Distell
benadeel homself deur nie ook 'n Chardonnay as 'n enkelkultivar en 'n Shiraz by
dié reeks in te sluit nie.
"Chardonnay bly die gewildste kultivar ter wêreld.
Ondanks die feit dat baie mense alles behalwe Chardonnay wil drink, neem die
vraag daarna nie af nie. Suid-Afrika het meer daarvan nodig. Persentasiegewys
het Suid-Afrika steeds minder Chardonnay as ander lande, terwyl meer Sauvignon
blanc ook voordelig sou wees.
"Op sy beurt geniet Shiraz groot en groeiende
internasionale verbruikersteun, terwyl baie min lande Shiraz-wyne maak. Italië,
Frankryk en Amerika is die wêreld se grootste wynprodusente, maar net Frankryk
verbou Shiraz. Daarbenewens is dit net Australië wat 'n beduidende hoeveelheid
Shiraz kweek en die Britse verbruikers reeds daaraan gewoond gemaak het.
Kalifornië en Suid-Afrika verbou heelwat minder Shiraz. Tog is baie van die
Kaapse weergawes daarvan gewild in die buiteland.
"Cabernet is internasionaal
die naasgewildste kultivar, gevolg deur Cabernet-gebaseerde versnitte. Gelukkig
is daar dele van die Kaap wat besonder geskik is vir die verbouing van puik
Cabernet-druiwe."
Wat Suid-Afrika se aspoesterkultivar, Chenin blanc, betref,
meen mnr. Schultz boere sal voortgaan om dié wingerde uit te kap. " 'n Klein
persentasie Chenin blanc-wyne is sonder twyfel uitstekend, maar die meeste
Chenin is gemiddelde tafelwyn wat nie vir die internasionale mark geskik is
nie.
"Daarmee sê ek nie dit is onmoontlik om meer met dié kultivar te vermag
nie. àl wat ek sê, is dat die publiek wéét wat hy van Australiese Chardonnay kan
verwag, maar dat dieselfde nie van Suid-Afrikaanse Chenin gesê kan word nie.
Chenin se gehalte is nog te wisselvallig."
Mnr. Schultz glo ook Suid-Afrika
moet soveel moontlik uit sy enigste inheemse kultivar, Pinotage, probeer haal.
Hy glo dat die goeie Pinotage wat gemaak word, baie goed is, maar dat daar nog
hopeloos te veel gemiddelde Pinotage is. "Pinotage sal nie op die kort termyn 'n
wêreldtreffer word nie. Vanweë sy kenmerkende eienskappe hou mense daarvan, óf
glad nie."
Dié kultivar is veral in Brittanje en in 'n mindere mate in
Duitsland en die Benelux-lande bekend, maar in die res van die wêreld verg dit
nog heelwat bemarking.
Wat rooi wyn betref, verkies mnr. Schultz Shiraz,
Cabernet Sauvignon en Petit Verdot, terwyl hy aan die wit kant 'n voorliefde vir
Chardonnay, Sauvignon blanc, Sémillon en Riesling het.
Mnr. Schultz sê hy
verkies 'n wyn waarvan die pH waarskynlik laer is as dié van Suid-Afrikaanse
wyne in die algemeen. Hy hou van 'n rooi wyn met 'n pH nie hoër as 3,6 nie
(hoewel Pinotage 'n uitsondering is) en waarvan die suur goed gebalanseer is.
"Hoe laer die pH, hoe beter is die rooi kleur en hoe hoër die pH, hoe blouer is
die wyn. Sodra die pH daal, styg die suur."
Om vir internasionale
verbruikersvoorkeure voorsiening te maak, is dit een van sy vernaamste take om
die kultivarsamestelling van Distell se wingerde te bepaal, sowel as dié van die
boere wat aan hom verskaf.
Hy is bemoedig deur die wêreldklas-praktyke van
baie van Distell se wingerdboere, sowel as hul ontvanklikheid vir nuwe metodes
om standaarde te verbeter. 'n Fyn balans sal egter gehandhaaf moet word tussen
'n aanvaarbare opbrengs, gehalte en die uiteindelike prys van 'n wyn.
"Om
opbrengs te beperk, beteken nie altyd dat gehalte verbeter word nie. In sommige
gevalle maak die beperking van opbrengs geen merkbare verskil aan die gehalte
nie, terwyl dit bloot die produksiekoste opstoot," reken mnr.
Schultz.
Besproeiing
Hoewel wingerde eerder in die warmer wyndruifgebiede
besproei word, wys mnr. Schultz daarop dat selfs die koeler streke soms
droogtetye beleef en dat boere in hierdie gebiede dit moet oorweeg om wingerde
te besproei. "In sulke gevalle kan besproeiing gebruik word om wisselvallige
oeste te voorkom sonder om die wyngehalte te benadeel. Dit sal natuurlik afhang
van die grondsoort, hoeveel en hoe dikwels 'n boer besproei.
Distell tref ook
nuwe maatreëls om die druiwe te verkoel en die vrugtigheid daarvan te verhoog.
Die verkoeling van druiwe vertraag die chemiese reaksies en beperk fenoliese
verbindings. Daarbenewens hersien mnr. Schultz ook houtbehandeling en die
bottelveroudering van grootvolume-wyne.
Hy meen sommige plaaslike wyne het
tot dusver te min houtveroudering ondergaan en ander te veel. "Niemand sal die
veranderinge agterkom wat ek in dié opsig by Distell beoog nie. Dit sal
geleidelik van oesjaar tot oesjaar gedoen word. Met subtiele verandering sal ons
nie ons bestaande kliënte vervreem nie, maar terselfdertyd wil ons die wyne
verbeter om kliënte by te kry.
Mnr. Schultz wys ook daarop dat van Distell se
wyne van vier weke tot drie maande in die bottels verouder word voordat dit vir
uitvoer verskeep word. Hy meen egter dat die seereis deel van die
bottelveroudering is en dat die wyne dus gouer verskeep kan word.
"Deur
groter aandag te gee aan die behoeftes van die kleinhandelaars en verbruikers,
beplan ons om voorraadbestuur, reaksietye en algemene logistiek te verbeter.
Distell sal ook die ontwikkeling van nuwe produkte op 'n meer markgedrewe manier
hanteer. Pleks van nuwe handelsname willekeurig bekend te stel, sal ons begin om
sommige produkte vir spesifieke markte en spesifieke marksegmente te
ontwikkel."
Wynhandelsmerke verminder
Distell verklein sy portefeulje van wynetikette in 'n poging om dit internasionaal mededingender te maak.
Mnr. Linley Schultz, Distell se nuwe groepwynmaker en hoof van dié maatskappy se 25 wynmakers, ontwikkel nou 'n portefeulje van internasionale handelsname vir dié maatskappy. Dit sluit in Nederburg, Durbanville Hills, Fleur du Cap, Drostdyhof en Two Oceans. Dié handelsname word ontwik kel met die oog op sleutelmarkte wêreldwyd.
Verder is mnr. Schultz verantwoordelik vir die maatskappy se 15 eksklusiewe boetiekhandelsname, waaronder Plaisir de Merle, Lanzerac, Tukulu, Stellenzicht, Neethlingshof en JC le Roux, wat ook op die internasionale markte gemik is.
Dié strategie spruit uit die voortgesette groei in die gewildheid van Nuwe Wêreld-wyne wat na verwagting teen 2005 sowat 23 % van die wêreld-wynmark sal verteenwoordig vergeleke met 17 % in 1999.
"Distell maak nie meer wyn vir die plaaslike mark en daarna vir 'n vormlose uitvoermark nie, maar vir 'n enkele internasionale mark. Dit sluit Suid-Afrika in." Só sê me. Kim Green, die maatskappy se bemarkingsbestuurder: Wyne.
"Dit verminder nie die belangrikheid van die plaaslike mark nie, en raak ook nie Distell se trots op sy Suid-Afrikaansheid nie. Dit beteken dat ons spesifieke strategieë ontwikkel vir elke land waar ons sake doen. Ons verkies om sake te doen in lande wat lonende groeimoontlikhede inhou."
Behalwe Suid-Afrika, sal Distell hoofsaaklik fokus op Brittanje, Duitsland en Amerika, gevolg deur Ierland, Nederland, België, Denemarke, Swede en Kanada gesamentlik. In ál hierdie lande sal Distell hom toespits op die premium-sektor, waar wyne van £3 tot £5 kos, en in die superpremium-sektor, met pryse wat van £5 tot £7 wissel.
Volgens me. Green het Distell se navorsing, sowel as die waarneming van internasionale neigings, daarop gedui dat hierdie twee marksegmente die beste groeipotensiaal toon.
Die markmededinging neem steeds toe, omdat die Ou Wêreld-wynlande, soos Frankryk, terugveg teen die vordering van die wynproduserende lande van die Nuwe Wêreld.
"Dus het Suid-Afrika sterk internasionale handelsname van 'n hoë gehalte nodig met 'n wenvoorkoms en onderskeidende kenmerke. Dit moet dienooreenkomstig verpak en aangebied word, terwyl genoeg voorraad nodig is om in die vraag te voorsien."
Volgens me. Green sal die grootste persentasie van Distell se verkope van die grootvolume-handelsmerke kom. Dit word só gestruktureer om deurlopend gehaltevoorraad te kan lewer en in die internasionale mark se groeiende vraag na medium-prysklaswyne te kan voorsien.
Sy het egter beklemtoon dat die boetiekwyne vir Distell van die allergrootste belang bly vir die bevordering van sy eie beeld sowel as dié van Suid-Afrika as 'n land wat in staat is om voortreflike wyne te maak.
Me. Green sê Distell het vele bedryfsveranderinge in die produksie van sy wyne gemaak om volhoubare voorrade te kan lewer. Dit het die aanstelling van mnr. Schultz as Distell se groep-wynmaker ingesluit.
5 Julie 2002