
’n Europese restaurantketting ry behoorlik die groen golf deur avokado’s die spil te maak waarom alles by dié eetplekke draai, en mense kan klaarblyklik nie genoeg kry daarvan nie.
“Ons vra onsself graag af: Kan ons dit avokado? As die antwoord ‘ja’ is, plaas ons dit op die spyskaart,” vertel Ron Simpson, mede-eienaar van die Nederlandse restaurant The Avocado Show wat nou ook die res van Europa verower.
Op die spyskaart pryk Instagram-waardige geregte soos poké-bakkies, avokadoburgers en avokado-tuine (’n prentjiemooi gereg van avokado, hummus, kruie en blomme) saam met geregte soos avokadotjips, grondboontjiebotter-en-avokadoroomys en avokadopannekoeke.
Dit is die wêreld se eerste restaurant waarin avokado’s, wat deesdae op die A-lys van vrugte is, die hoofrol vertolk in elke liewe gereg. Die eerste tak is in 2017 in Amsterdam geopen, in die tyd dat avokado-manie wêreldwyd hoogty gevier het.
Nou is daar drie takke in die Nederlandse hoofstad, een in Brussel (België) en een in Madrid (Spanje). Binnekort maak daar nog ’n paar in Spanje en Portugal, Frankryk en Londen oop.
“Vir my is die lekkerste om mense se reaksies dop te hou as ons die kos voor hulle neersit. Hulle glimlag, neem foto’s en klim dan met mening in om die kos te eet.
Van die algemeenste vrae wat ons kry, is oor hoe ons die geregte maak, of mense dit tuis kan maak, hoe ons die avokado’s sny en hoe ons geur- en kleurkombinasies ontwikkel,” het Ron vertel tydens Fruitnet se aanlyn World of Fresh Ideas-simposium.
Hulle het selfs ’n resepteboek saamgestel waarin hulle al hul geheime verklap. Ron en sy vennoot, Julien Zaal, sê hulle het nie destyds gedink dit is riskant om ’n mono-restaurant (wat rondom een bestanddeel wentel) te open nie.
Dit was ’n gewilde neiging in Nederland, maar toe hulle op avokado’s as sterbestanddeel besluit het, het mense se reaksies hulle uitgeboul. “Die terugvoer was só gunstig dat ons besef het ons het iets beet.
Ons het ook agtergekom mense praat vlot emoji, want ons het net heeltyd hartjies en glimlaggesiggies en ‘OMG’ in die terugvoer gekry. Dit was presies die reaksie waarop ons gehoop het.”
Nie Ron of Julien het ’n kosagtergrond nie, maar albei was betrokke in die geleentheidsbedryf en het ‘allerhande goed’ bemark. “Ek het ook baie geëet!
Ons was gewoond daaraan om mense te vermaak, maar dit was nog nooit gegrond op kos nie. Ek dink ons het eintlik net ’n plek probeer skep waar ons wou eet.”
Beste gehalte
Hul avokado’s word eksklusief deur Nature’s Pride verskaf. Dié maatskappy is een van die grootste vrugte-en-groente-invoerders in Europa en hul reeks bestaan uit meer as 230 verskillende soorte vrugte en groente wat uit 58 lande kom.
Nature’s Pride is ook bekend as die maatskappy wat avokado’s “groot” gemaak het in Europa, veral danksy baanbrekerswerk met rypmaking en die verlenging van raklewe.
“Nature’s Pride voldoen aan al ons standaarde. Ons hou van hoe die avokado’s geproduseer, vervoer en afgelewer word, en natuurlik van die gehalte.
“In die lande waar hulle teenwoordig is, sal ons die vennootskap volhou, maar as ons markte betree waar hulle nie so aktief is nie, sal hulle ons help om produkte te verkry wat aan ons behoeftes voldoen.”
Hulle is glad nie bekommerd dat avokado’s net so vinnig uit die mode sal gaan as wat hulle ingekom het nie.
“Dit is nie die eerste keer dat ons sien ’n vrug is só suksesvol wanneer dit aan die mark bekend gestel word nie. Nature’s Pride het ook jare gelede mango’s en pynappels na Nederland gebring.
Daardie eksotiese vrugte het ook hul dekade gehad, maar die tropiese geure is steeds gunstelinge en op rakke beskikbaar. Ek dink dus die avokado-golf sal stabiliseer, maar dit is hier om te bly.
Dis nie asof mense oor vyf jaar gaan ophou om avokado op hul roosterbrood of in hul slaai te eet nie. Dit gaan net meer alledaags raak.”
Van Nederland na res van Europa
Tydens die koronaviruspandemie het van die Amsterdamse restaurante wegneemetes aangebied, maar Ron, Julien en hul span het merendeels die tyd gebruik om aan hul konsessie-prosesse te skaaf.
“Dit was moeilik om restaurante te open, veral wat betref opleiding en om eiendomme op te spoor. Vir eers konsentreer ons net op Europa en ons het die regte prosesse gereed om die konsessiehouers te ondersteun.”
Ron sê hoewel Spanje die grootste avokadoprodusent in Europa is, is dit een van die lande waar avokadoverbruik laag is. Dit keer hulle egter nie om daar restaurante te open nie.
“Dit werk nie altyd om nasionaal te dink nie. Ons kyk eerder na cool stede waar kos en reis ’n groot rol speel, soos Madrid, Barcelona, Lissabon, Porto, Ibiza en Valencia.”
Kort ná die sukses van The Avocado Show rugbaar geword het, het hulle navrae van reg oor die wêreld gekry om restaurante daar te open.
“Ons was soos entoesiastiese kindertjies wat net te gelukkig was om oral heen te gaan, maar ons het gou besef dit is nie ’n goeie strategie nie. Ons wil eers seker maak ons is in Europa gevestig voor ons aanbeweeg na ’n volgende streek.”
Verslawend
Hulle volg ’n 80/20-reël in die restaurante, sê Julien. Sekere ikoniese geregte (soos die poké-bakkie en die avokadoburger) is by al die restaurante beskikbaar. Hulle ondersoek egter ook plaaslike geregte in die ander markte waaraan hulle ’n avokado-kinkel kan verleen.
Maar bo alles, bly die avokadotjips deurgaans hul beste verkoper. Elke tweede tafel bestel dit. “Ons rol avokadowiggies in pankokrummels en diepbraai dit. Dit word bedien met truffel-mayonnaise.
Die rede waarom dit só goed verkoop, is omdat dit die perfekte bygereg is vir enigiets, van die poké-bakkie tot die pannekoeke. Dit is uniek en nuwerwets. Mense is aanvanklik nuuskierig en stel dit op die proef, maar dan raak hulle verslaaf daaraan!”