Suid-Afrika se avokadobedryf is een van
dievoorlopers met die bemarking van vrugte in die buiteland. Dié bedryf is
gevolglik 'n belangrike vennoot in die totstandkoming van 'n plaaslike forum vir
die uitvoer van vars produkte.
Die avokadobedryf, met sy bederfbare produk, is al jare lank betrokke by 'n baie mededingende buitelandse mark. Vir talle van die haakplekke wat ander plaaslike bedrywe nou in die vrye mark ondervind, het dié bedryf lankal planne gemaak.
Wanneer buitestanders na die avokadobedryf as kerngesond verwys, beteken dit nie dat die bedryf sonder probleme is nie, sê mnr. Chris Keevy, hoofbestuurder van die Avokadokwekersvereniging van Suider-Afrika op Tzaneen.
Hoewel alle probleme nog nie opgelos is nie, het die avokadobedryf heelwat gevorder. Veral in verband met buitelandse bemarking is baie lesse geleer.
Mnr. Keevy sê 1994 was 'n "aan"-jaar en die avokadobedryf het met 'n baie groot oes opgesaal gesit. Daarby was daar heelwat wanorde en gepaardgaande swak pryse in die mark. Daarna het die bedryf (onder andere van die groot produsente en uitvoerders) die fokus van die kwekersvereniging verbreed om nie net navorsingsresultate en tegniese inligting oor te dra nie, maar ook om inligting in te samel in 'n poging om rigting aan die bemarking te gee. Die beginsel van samewerking is in die bedryf gevestig en die klem is gelê op ondersteunende dienste, markinligting en logistieke ko?dinering.
Sedertdien skakel die uitvoerders en die produsente gereeld met mekaar deur die kwekersvereniging en word inligting al voor 'n volgende seisoen uitgeruil. Hierdeur kry die kwekersvereniging oesskattings van boere en pakhuise asook vooruitskattings van die uitvoerders.
Hierdie skattings is só gevorderd dat selfs onderskei word tussen die groenskil- en die Hass-tipes. Dit stel die vereniging in staat om saam met die ander betrokkenes 'n vloeiprogram op te stel om die aanbod met die markbehoefte te konsolideer.
Maar 'n bedryf kan ál sy planne met 'n bemarkingsvloeiprogram en al mooi op papier uitwerk en dan krap iets soos gebrekkige seevervoer (soos verlede jaar) alles deurmekaar. As dit nie was dat die mark in die 2001-seisoen ondervoorsien was nie, sou die Suid-Afrikaanse bedryf groot skade weens die verskepingsprobleme gely het.
Mnr. Keevy sê die wêreld se drie grootste avokado-invoermarkte is Europa met sowat 160 000 t, Amerika met 50 000 t tot 60 000 t en Japan met minder as 10 000 t. Weens fitosanitêre vereistes kan Suid-Afrika avokado's nie in Amerika en Japan verkoop nie. Die plaaslike bedryf is dus verplig om vir markuitbreiding op Europa te konsentreer.
Die Europese mark vir avokado's het sedert 1986 bykans verdubbel. Vanaf 1986 tot 1990 is gemiddeld 85 000 t per jaar en vanaf 1991 tot 1995 gemiddeld 131 000 t per jaar in Europa bemark. Dit het verder gegroei tot sowat 169 000 t per jaar vanaf 1996 tot 2000.
Van hierdie volumes het Suid-Afrika, Kenia, Israel en Spanje saam sedert 1986 vir die drie genoemde tydperke onderskeidelik 61 000 t, 93 000 t en 145 000 t voorsien. Spanje en Israel voorsien avokado's hoofsaaklik in die Europese winter, terwyl Suid-Afrika en Kenia met vinnig groeiende volumes in die Europese somer uitvoer.
Die plaaslike avokadobedryf het 'n paar jaar gelede besluit om die Europese mark te stimuleer sodat meer daarheen uitgevoer kan word. In 1995 het lede van die kwekersvereniging besluit om die heffing van 20c per uitvoerkarton met 'n bykomende 30c tot 50c per uitvoerkarton te verhoog.
Marknavorsing
Met hierdie groter inkomste het die bedryf marknavorsing begin doen. KAE Market Intelligence van Londen is vir dié doel aangestel. Die marknavorsing het onder meer aan die lig gebring dat die verbruik van 200 g per kop in Engeland swak vergelyk het met die sowat 1 500 g in Frankryk.
Die marknavorsing het ook aan die lig gebring dat die totale Europese verbruik per kop van avokado's baie hoër was in die Europese winter wanneer vrugte uit Spanje en Israel bemark is as in die Europese somer wanneer Suid-Afrika en Kenia die hoofvoorsieners was.
Mnr. Keevy sê terselfdertyd het Mexiko stelselmatig groter toegang tot markte in Amerika gekry en gevolglik minder avokado's na Europa uitgevoer. Dit het Suid-Afrika, Spanje, Israel en Kenia se markaandeel in Europa vergroot.
Die bedryf het egter besef dat die bestaande mark in ieder geval beperk is en dat die markte oorvoorsien kan word as produksie aanmerklik sou styg. Dit sou lei tot 'n kleiner verdienste weens laer pryse en die geleidelike agteruitgang van die avokadobedryf.
Die marknavorsing het 'n geleentheid geidentifiseer om die verbruik van avokado's in Engeland te verhoog. In 1996 is die promosie-agentskap Richmond Towers in Londen aangestel wat met die promosieveldtog deur die in- en uitvoerders en die supermarkte hoofsaaklik die media te gebruik om op die verbruiker te fokus. Hierdie veldtog het goed gewerk en die verbruik van avokado's per kop in Engeland het die afgelope vyf tot ses jaar verdubbel. Die grootste toename was in die Europese somer, wanneer die Britte gewoonlik nie avokado's beskikbaar gehad het nie.
Suid-Afrika is die grootste voorsiener van avokado's aan Engeland en, hoewel van die ander produksielande ook by die groter markafset baat, is dit Suid-Afrika wat die grootste voordeel daaruit kry. Vanaf 1999, toe wêreldwyd min geproduseer is, tot 2000 (met hoër produksie) het die hoeveelheid Suid-Afrikaanse avokado's wat deur die kleinhandel in Engeland verkoop is, met 15 % toegeneem, terwyl die waarde van hierdie verkope met 23 % toegeneem het. Dit verteenwoordig 'n waardetoename vanaf 16 miljoen pond tot 20 miljoen pond.
In 2001 ('n laer produksiejaar) het die volume van die kleinhandelverkope met slegs 1 % toegeneem, maar die waarde van die verkope het met 19 % (van 20 miljoen pond tot net onder 24 miljoen pond) toegeneem.
Promar International (van Londen) se verbruikersondersoeke gedurende 2002 het aan die lig gebring dat die verbruik van avokado's in Engeland sedert 1997 sy piek in April tot September bereik, wanneer Suid-Afrikaanse avokado's beskikbaar is.
Mnr. Keevy sê Promar se jongste marknavorsing in Frankryk bevestig 'n hoër verbruik gedurende die winter as in die Europese somer wanneer Suid-Afrikaanse avokado's op die mark kom. Hierdie situasie (soortgelyk aan wat aanvanklik in Engeland die geval was) tesame met die beplande uitbreiding van die Europese Unie van 15 tot 27 lande, dui dus op onontginde markpotensiaal vir Suid-Afrikaanse avokado's.
Streng fitosanitêre maatreëls is tans die grootste struikelblok vir die plaaslike bedryf om toegang te kry tot die Amerikaanse markte. In hierdie verband skakel die kwekersvereniging nou met die Departement van Handel en Nywerheid en die Departement van Landbou om meer nuwe markte vir avokado's te identifiseer.
Net soos wat die plaaslike avokadobedryf onderling inligting uitruil, het die vereniging ook op internasionale gebied bondgenote van eertydse mededingers gemaak deur 'n samewerkingsooreenkoms met die belangrikste avokadoproduksielande te sluit.
Werkgroep
Hierdie avokadobemarkingswerkgroep het op die wêreldkongres in 1999 in Mexiko beslag gekry en behels die uitruil van nie-strategiese bemarkingsinligting tussen die lande wat dieselfde markte bedien.
Die vorige vergadering van die werkgroep was in November in Spanje, Israel, Suid-Afrika, Kenia, Mexiko, Chili en Argentinië was daar. Die volgende vergadering sal later vanjaar in Kenia gehou word. Die belangrikste vennote is sedert Januarie 2002 besig om weekliks inligting uit te ruil. Die Suid-Afrikaanse kwekersvereniging tree as sekreteriaat van hierdie werksgroep op.
Wat die Avokadokwekersvereniging van Suider-Afrika tot dusver bereik het, kan toegeskryf word aan die insig en bereidwilligheid van die boere om hul hande diep in hul sakke te steek en geld vir markontwikkeling beskikbaar te stel. Een van die unieke eienskappe van die plaaslike avokadobedryf is dat uitvoermaatskappye of uitvoergroepe waarby boere belang het, tans meer as die helfte van die avokado's uitvoer. Nóg 'n kenmerk van die bedryf is die openlikheid met die uitruil van inligting ter bevordering van die totale bedryf, ook internasionaal.
Dit is met hierdie jare lange ervaring en spesifieke kundigheid dat die avokadobedryf voel hy kan 'n bydrae lewer deur nouer met ander Suid Afrikaanse vrugte-uitvoerbedrywe saam te werk. Daar bestaan beslis moontlikhede om die beeld van Suid-Afrika as bron van puik vrugte uit te bou, sê mnr. Keevy.
7 Junie 2002