
Wydverspreide haelstorms in Mpumalanga en Limpopo in Desember het beduidende skade in avokadoboorde aangerig en ’n demper geplaas op die verwagte grootte van vanjaar se oes, sê mnr. Clive Garrett, voorsitter van die van die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging.
Die aanvanklike oesskatting is van 18 miljoen kartonhouers van 4 kg elk aangepas na 15,5 miljoen kartonhouers. Garrett sê dit is belangrik om in gedagte te hou dat avokadobome wisselend dra. ’n Groot oes word normaalweg deur ’n kleiner oes in die daaropvolgende jaar gevolg.
Garrett sê volgens kwekerye se beramings word jaarliks sowat 1 000 ha avokadoboorde aangeplant. Dit sluit ook die vervanging van ou boorde in. Die meeste aanplantings is in Limpopo.
Danksy die opheffing van reisbeperkings, wat beteken dat buitelandse inspekteurs weer na Suid-Afrika kan reis om fisiek inspeksies te doen, hoop die avokadobedryf volgens hom om binnekort toegang tot onder meer die Japanse en Indiese mark te kry. “Noudat pere toegang tot China gekry het, is avokado’s volgende op die lysie. Onderhandelinge oor fotosanitêre vereistes vorder goed. Hopelik sal dit nie lank wees voordat ons toegang tot dié mark kry nie.”
Om toegang tot ’n nuwe mark te kry is volgens hom ’n baie ingewikkelde proses wat onder meer ’n risiko-analise vir plae, ooreenkomste oor fotosanitêre vereistes en bilaterale handelsooreenkomste insluit. Dit kan onderhandelinge baie kompleks maak.