Die groepie brandewynpioniers het besef daar is ’n mark vir brandewyn, maar dié mark sal net bestendig bly en groei as die produk van goeie gehalte is. Hulle was die grondleggers van prosesse wat vandag nog tydens die stook en versnyding van brandewyn gebruik word.
Hulle was ook die voorlopers van die groot maatskappye wat vandag Suid-Afrika se brandewyn lewer. Destyds was dit klein familiesake wat van pa na seun oorgedra is.
Mettertyd het hulle saamgesmelt, mekaar uitgekoop of oorgeneem. Die versameling geregistreerde handelsmerke vandag kan almal teruggelei word na die klein groepie besighede aan die begin.