
’n Gehoute witwynversnit van Chardonnay en Colombar het aan die Badsberg-wynkelder in die Breedekloof naby Worcester die tweede agtereenvolgende jaar die Generaal Smuts-trofee as algehele wenner op vanjaar se SA Jongwynskou besorg.
Badsberg is een van net vier kelders wat al daarin geslaag het om die Generaal Smuts-trofee in agtereenvolgende jare te wen sedert die trofee in 1952 vir die eerste keer op dié skou oorhandig is.
Die wynkelder het reeds drie keer vantevore die trofee gewen, verlede jaar vir ’n gehoute Ruby Cabernet, in 2016 vir ’n gehoute Pinotage en in 2009 vir ’n natuurlike soetwyn.
Badsberg het verdere geskiedenis gemaak op die wynskou vir wyne van die huidige oesjaar, wat jaarliks deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANSWA) met die samewerking van Agri-Expo aangebied word, aangesien dit die eerste keer is dat ’n witwynversnit as die algehele kampioenwyn aangewys is.
Spier het weggestap met die Pietman Hugo-trofee vir die wynkelder wat die hoogste totale punte vir sy vyf beste wyne behaal het.
Die 50 beoordelaars op 13 panele het die 1 162 inskrywings einde Julie by Nederburg in die Paarl beoordeel. Volgens SANSWA was daar vanjaar aansienlik meer inskrywings as verlede jaar. Volgens die beoordelaars was die gehalte van vanjaar se inskrywings uitmuntend danksy ’n later en koeler oes.