
Deeglike beplanning is nodig om krisisse tydens brande af te weer. ’n Deeglike strategie moet gereed wees op dié dag wanneer brande ontstaan. Daar kan nie van brandbestryders verwag word om alleen ’n situasie te red as die krisis op hande is nie, voorbereidings moet betyds gedoen word, sê mnr. Nico Steinberg, ’n vlieënier van Working on Fire (WOF).
Dié voormalige bestuurder van ’n brandbeskermingseenheid in Mpumalanga en boer van Chrissiesmeer het al wyd oor die land gevlieg om brande te help bestry. “Die eerste uur van ’n brand is die belangrikste. Dit is dan wanner jy hom in die kiem wil smoor. Hoe vinniger, hoe beter, hoe later hoe moeiliker,” aldus Steinberg.
’n Tweede belangrike eienskap van brandverenigings is dat hulle die regte reaksieplanne in plek moet hê. “Samewerking tussen boere en brandbestryders dra ook by tot welslae,” vertel Steinberg.
Voorbrande en munisipale hulp
Voorbrande is volgens Steinberg ’n baie belangrike aspek, “want sonder ’n voorbrand gaan jy nie ’n brand van 60 km/h keer om oor ’n tweespoorpaadjie te spring nie.” Voorbrande word ook as ankerpunte gebruik wanneer vlieëniers die spanne op die grond moet laat weet hoe ’n brand bestry moet word en in watter rigting hulle moet beweeg.
Steinberg het in die vroeë 1980’s betrokke geraak by brandbestryding toe die bosboubedryf daarop gekonsentreer het om plantasies te beskerm. Hy sê sedert die eerste brandverenigings in 2006 gestig is, is vanjaar die eerste jaar dat munisipaliteite begin om finansiering daarvoor aan te bied.
Erge brandseisoen moontlik
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandoorsig van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê die tyd vir voorbrande in dié provinsie is tot aan die einde van Junie. Sowat 8 000 ha het reeds vanjaar in die distrik Boshof afgebrand, terwyl sowat 500 ha by Trompsburg in die slag gebly het.
Procter waarsku dat toestande vir brande vir die komende seisoen goed is. “Ons vermoed dat ’n rowwe seisoen kan voorlê, want laer as normale reënval en bonormale temperature word voorspel, terwyl reënval die afgelope twee jaar redelik normaal was.”