
Die afgelope ruk is wyd berig oor ’n verslag van die Australiese beleggingsgroep Morgan Stanley waarin ’n internasionale wyntekort voorspel word. Dié verslag voorspel dat produksie nie vinnig genoeg gaan toeneem om te vergoed vir die swak Europese oes van verlede jaar nie en dat dit tot ’n voorraadtekort en ’n styging in wynpryse gaan lei.
Me. Su Birch, vorige uitvoerende hoof van Wosa (Wines of South Africa), sê egter die verslag moet met ’n knippie sout geneem word. Volgens haar gee die Internasionale Organisasie van Wingerd en Wyn (OIV) ’n meer realistiese projeksie. Volgens die OIV was verlede jaar se oes klein, maar daar word voorspel dat produksie vanjaar met amper 9% sal groei – van 258 miljoen hektoliter verlede jaar tot 281 miljoen hektoliter. Dit is die hoogste die afgelope sewe jaar.
Birch sê die swak oeste in Europa het tot hoër uitvoer van grootmaatwyn van Suid-Afrika na Europa gelei, maar hierdie situasie loop ten einde soos die Europese oes afgehandel word. “Daar behoort volgende jaar ’n beter balans tussen die voorraad en verbruik te wees. Dit sal lei tot ’n kleiner vraag na Suid-Afrikaanse grootmaatwyn.”
Sy voorsien ook nie dat pryse vir wyn binnekort gaan styg nie. Volgens haar is die balans tussen verbruik en produksie goed. “Dié aspek lewer saam met die swak waarde van die rand ’n gulde geleentheid vir Suid-Afrika om sy mark uit te bou.”