'n Enorme buitelandse
bessiemark, waar sommige bessies tot R60/kg behaal, wag vir Suid-Afrikaanse
boere, maar dan moet hulle sorg dat hulle vruggrootte en -gehalte reg is.
Bessieverbouing is 'n redelik jong bedryf in Suid-Afrika met baie potensiaal en uitstekende wins, maar dit moet van die begin af reg bestuur word om 'n topproduk te lewer.
Só sê mnr. Nick Prinsloo, landbou-ontwikkelingstegnikus by die Landbou-ontwikkelingsentrum Nooitgedacht buite Ermelo. Hy is sedert 1997 betrokke by die evaluering van verskillende bessiekultivars vir Suid-Afrika.
Hy meen daar is goeie vooruitsigte vir uitbreiding in dié bedryf. Dit word egter gekortwiek deur boere se finansiële posisie omdat dit duur is om bessies te vestig. Daarby begin sommige soorte eers in die derde jaar ná vestiging produseer en kom party soorte eers in die vyfde of sesde jaar in volle produksie.
Bessieboerdery verg uitstekende bestuur en baie arbeid. 'n Boer kan dus baie skade ly as dinge skeef loop, maar die wins wat deur 'n goeie produk behaal word, is baie hoog.
Vars bessies is nog taamlik onbekend by die Suid-Afrikaanse verbruiker omdat dit skaars en duur is. Daar is wel 'n redelik goeie mark in die verwerkingsbedryf.
Bessies het egter 'n goeie varsmarkwaarde in die buiteland, waar pryse van R25/kg tot R60/kg en meer behaal word na gelang van die seisoen en die wisselkoers, sê mnr. Prinsloo.
"Bessies uit Suid-Afrika word hoofsaaklik na Europa en Engeland uitgevoer en ons produsente is in die gunstige posisie dat hulle buite die Europese seisoen produseer. Suid-Afrika se grootste mededingers in dié winsgewende mark, Chili en Australië, het hoër arbeid- en vervoerkoste, wat dit vir hulle moeilik maak om met die Suid-Afrikaanse produk mee te ding.
"Suid-Afrika skiet egter ver te kort wat gehalte betref. Veral vruggrootte is nie na wens nie. Dit kan met beter bemesting, bestuur en kultivars reggestel word."
Mnr. Prinsloo sê die boer wat wil uitvoer, moet sy mark ken. Boere moet minstens ses maande voor die tyd met 'n goeie uitvoeragent skakel. Hulle moet die agent van die nodige inligting voorsien ten opsigte van die geskatte hoeveelheid vrugte en wanneer dit gereed sal wees. "Om op die nippertjie met bemarkingsprobleme opgesaal te wees, is moeilikheid soek."
Die gewildste bessiesoorte in Europa is hoofsaaklik bloubessies ("blueberries"), frambose, ("raspberries"), swartbessies ("blackberries''), aalbessies ("currants") en kruisbessies (die Europese "gooseberry").
Tussen die verskillende soorte bessies verskil die prys nie veel nie.
In Suid-Afrika is die grootste aanplantings onder bloubessies en frambose, met swartbessies 'n kort kop agter, en heelwat kleiner aanplantings van aal- en kruisbessies.
Alle soorte het koue winters (400 tot 1 000 koue-eenhede) en matige tot koel somers nodig, met temperature van verkieslik nie bo 30 °C nie. Hoe kouer die winter, hoe groter is die kultivar-keuse. Bloubessies kan wel 'n somertemperatuur van tot 40 °C hanteer, wat dit vir 'n wyer gebied geskik maak, sê mnr. Prinsloo.
Die grondvereistes vir bloubessies is baie spesifiek, naamlik goed gedreineerde sandgrond (minder as 25 % klei) met 'n lae pH van onder 5,5 (H2</sub)O) en 'n hoë organiese materiaalinhoud. Die ander bessiesoorte kan op 'n wye verskeidenheid grondsoorte geplant word, maar dit moet goed dreineer en 'n pH van 6 tot 6,5 (H2</sub)O) hê.
Bessies vereis die ekwivalent van sowat 25 mm reën per week in die groeiseisoen. 'n Uitsondering is aalbessies, wat 25 mm en meer nodig het. Hoewel bessies in die winter dormant is, is dit raadsaam om die grond klam genoeg te hou sodat die grond nie heeltemal uitdroog en die wortels skade kry nie.
Bemesting is uiters belangrik vir vruggrootte en -gehalte en moet aan die hand van vasgestelde blaarnorme toegepas word. Blare moet minstens een keer per maand ontleed word.
Mnr. Prinsloo sê bessies moet onder haelnet gekweek word om wind- en haelskade te verhoed. In sy proewe het hy ook gevind dit dra by tot groei en gehalte.
'n Verkoelingstelsel op die plaas is 'n vereiste omdat bessies binne 'n uur nadat dit gepluk is, tot 1 °C verkoel en teen dié temperatuur tot by die mark gehou moet word. Dit sal 'n goeie rakleeftyd verseker. Hoe vinniger dit afgekoel word, hoe beter is die rakleeftyd en gehalte.
Die vestigingskoste is gemiddeld sowat R110 000/ha. Hy reken 4 ha is groot genoeg om 'n ekonomiese uitvoereenheid te begin. Dit behoort genoeg vrugte per dag te produseer om die vervoerkoste van die plaas af tot op die lughawe en verder op die vliegtuig meer ekonomies te maak.
Omdat die plantmateriaal op bestelling gekweek word, moet boere 'n jaar vooruit hul beplanning en voorbereiding finaliseer sodat die nodige plantmateriaal bestel kan word.
Mnr. Prinsloo beveel aan dat boere op een soort konsentreer omdat die bestuursproses veral in die plukseisoen erg bemoeilik word as meer as een soort bessie geproduseer word. Wanneer bessies in volle produksie is, lewer dit 8 t/ha tot 10 t/ha.
Goeie grondvoorbereiding is deurslaggewend vir die geslaagde verbouing van bessies. Ontledings moet verkieslik 'n jaar voor vestiging gedoen word sodat chemiese tekorte betyds reggestel kan word.
Voor die vestiging van bloubessies word dennesaagsels om die helfte met grond (volumegewys) so diep moontlik op die ry ingewerk. Elke jaar moet 'n laag saagsels van 50 mm tot 70 mm dik op die ry gegooi word om die organiese materiaal en pH in stand te hou. By die ander bessiesoorte word geen dennesaagsels gebruik nie.
Die haelnette en drupbesproeiing moet ook gereed wees voor vestiging. Ná vestiging is onkruidbestryding belangrik en moet daar gereeld tussen die rye geskoffel of gespuit word.
Vir ál die soorte is bye nodig vir bestuiwing.
12 Julie 2002