
Me. Carina Gous, nie-uitvoerende voorsitter van Wines of South Africa (Wosa), het op die openingseminaar op Cape Wine gesê van die 12 grootste wynuitvoerlande lê Suid-Afrika die laagste op die mededingendheidsindeks.
“Ons is nie die grootste ten opsigte van volume nie en ons is die laagste ten opsigte van euro per liter waarvoor ons ons wyn verkoop. As ons nie ons posisie op dié grafiek kan verander nie, gaan ons nie ’n volhoubare bedryf hê nie.
“Ons werk baie hard om die boonste vlak van die mark binne te dring en ons wys die beste van wat ons het, maar ons het vennote nodig om waarde te bou in Suid-Afrika.”
Ook die Britse wynjoernalis Tim Atkin, wie se spesiale verslag oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf vandeesweek bekend gestel is, het die kwessie van Suid-Afrikaanse wyne se lae pryse aangeroer. Hy het gemaan dat hoewel die wyngehalte wonderlik is, kan goedkoop pryse die indruk wek dat die wyne “minder wonderlik” is.
“Kaapse wyne se pryse is steeds te laag vir die langtermynvoordeel van die bedryf. Druiweboere en produsente moet ook ’n bestaan kan voer,” meen hy.
120 miljoen liter minder wyn
Volgens Gous bly druiweboere se winsgewendheid onder druk. Byna ’n kwart van die primêre druiweprodusente het die bedryf die afgelope dekade verlaat, hoofsaaklik omdat ander landbougewasse winsgewender is as wyndruiwe. “Dit het gelei tot ’n afname in ons oppervlak onder wingerd en dat die ouderdom van ons wingerde toeneem. Dis nie ’n opbeurende prentjie op die oomblik nie,” sê Gous.
Vanuit DGB-geledere het ’n video die lig gesien waarin hulle ook hul misnoeë met lae wynpryse te kenne gee.
Mnr. Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, noem daarin dat nog 10 000 ha wingerd binnekort uitgehaal sal word. Dit sal tot ’n afname van 120 miljoen liter in wynproduksie oor die volgende drie tot vier jaar lei. “Tensy ’n strukturele aanpassing van 30% en meer plaasvind, sal die bedryf nie weer begin belê nie.”
Mnr. Stephan Joubert, groepwynmaker by DGB, het op Cape Wine gesê 37% van die druiweboere het verlede jaar teen ’n verlies geboer. “Net 14% was winsgewend. Die gemiddelde plaasinflasie was 7%; dis iets wat ons oorsese besoekers nie ken nie. Dis nie volhoubaar nie.”
Moet meer werk skep
Gous sê hoewel wynuitvoer gestabiliseer het op “ ’n gebalanseerde” 52% van die totale produksie, is dit kommerwekkend dat die uitvoer van verpakte produkte nie groei nie.
“Ek besef dis makliker om wyn op grootmaat wêreldwyd te verskeep en te botteleer in die land waar jy dit verkoop, maar in ’n land waar werkskepping noodsaaklik is, is dit belangrik om verkope van verpakte produkte aan te wakker.”
Die wynbedryf neem tans 300 000 mense in diens. As deel van die Wise-inisiatief word beoog om ’n ekstra 75 000 werkgeleenthede teen 2025 te skep.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.