Ná ’n lekker koue, nat winter in die meeste vrugteproduksiestreke, is vrugteboere vol hoop op ’n goeie seisoen. Die bedryf maak hom reg om 15 miljoen tot 16,5 miljoen kartonhouers vrugte (gemiddeld 5,25 kg per houer) uit te voer.
“Na gelang van hoe die seisoen verloop, lyk dit na dieselfde grootte oes as verlede jaar, met ’n 8%-toename aan die bopunt (van die mark),” luidens ’n Hortgro-verklaring. Die organisasie meen normaliteit het teruggekeer ná die droogte.
“Dit was ’n goeie winter, die lente was koel en die somer traag om te begin, maar ons sien uit na ’n goeie oes reg oor alle steenvrugtipes – mits die weer saamspeel,” volgens mnr. Jacques du Preez, hoofbestuurder van handel en markte by Hortgro.