Volgens mnr. Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiedienste, kan besproeiingsprobleme lei tot kleiner druifkorrels wat ’n invloed het op die oesgrootte. Na verwagting sal vanjaar se wyndruifoes die vierde kleinste oes in 17 jaar wees.
Talle Suid-Afrikaanse wingerde word besproei en produsente het elektrisiteit nodig om water uit byvoorbeeld besproeiingshooflyne of -kanale te pomp. Besproeiing is uiters belangrik om die verskillende fases van korrelontwikkeling te ondersteun, het Schutte op Vinpro se inligtingsdag gesê.
Mnr. Bennie Avenant, wyn-en-olyfboer van Namaqua Olives by Vredendal, sê dit grens tans aan ’n ramp. Nie net stel beurtkrag probleme nie, maar die gebied se watertoekenning is ook vanjaar minder.