
Hoewel BerriesZA, die bedryfsliggaam waar bloubessies ’n tuiste het, onafhanklik van Hortgro staan, maak mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, dit in ’n verklaring duidelik dat hy bekommerd is oor die situasie.
“Dit is ’n private aangeleentheid en moet as sodanig hanteer word. Gegewe die potensieel nadelige uitwerking op ander vrugtebedrywe se voortgesette toegang tot die jongste internasionale plantmateriaal, is Hortgro versoek om ’n beginselstandpunt oor intellektuele eiendom en verwante planttelersregte te maak. Die intellektuele eiendom en planttelersregte is die ruggraat van ’n mededingende bedryf en die nadelige uitwerking wat sulke openbare geskille op die posisie van Suid-Afrika as ’n gerekende en betroubare vennoot kan hê, word betreur.”
Rabe sê Hortgro steun wetgewing wat intellektuele eiendom en planttelersregte beskerm. Die organisasie onderskryf en respekteer eienaars se regte. “Ons respekteer die reg (van eienaars van planttelersregte) om die bemarkings- en handelsvoorwaardes van produkte, insluitend die betaal van tantième, te reguleer, op voorwaarde dat sodanige reëlings billik, duidelik en formeel ooreengekom is voordat verwante plantmateriaal aangeplant word.”
Wêreld moet SA vertrou
Rabe beklemtoon dat eienaars van planttelersregte wêreldwyd die vertroue moet hê dat hul regte beskerm en gerespekteer sal word in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf. Hierdie vertroue is volgens Rabe noodsaaklik vir voortgesette toegang tot die nuutste tegnologie, innovasie en beskikbare plantmateriaal.
Die rusie tussen Ross Berries en United Exports het reeds in 2019 begin in ’n dispuut oor kontrakte. Hierdie dispuut het uitgeloop op beskuldigings oor en weer in die media sedert 26 Oktober toe op ’n vraghouer bloubessies van Ross Berries in die Rotterdamhawe beslag gelê is.
United Exports beskuldig Ross Berries daarvan dat sy planttelersregte geskend is. Op sy beurt argumenteer Ross Berries dat hy steeds die planttelersregte eerbiedig, aangesien hy nog nooit opgehou het om tantième aan United Exports vir die bessies te betaal nie. Die twee partye sal vroeg in 2021 die geskil in arbitrasie probeer oplos.