Die hofaansoek van ’n boer van Nieuwoudtville om die rooibosteeverwerkings- en verpakkingsmaatskappy op dié dorp in sakeredding te plaas, word deur die maatskappy teengestaan. Die aansoek volg op die onvermoë van Nieuwoudtville Rooibos (Edms.) Bpk. om sy kontraktuele verpligtinge teenoor rooibosboere na te kom.
Nieuwoudtville Rooibos het vroeër vanjaar ’n e-pos aan al die boere wat in 2018 vyfjaarkontrakte met hom gesluit het, gestuur om te sê die maatskappy kan die boere nie vir hul tee betaal nie. Vir twee van die boere skuld die maatskappy nog van die geld wat in 2019 betaal moes word.
Mnr. Gert Burger, prokureur by die regspraktyk Burger Marais op Citrusdal, wat die aansoek namens mnr. Japie Nel van Cloudskraal Boerdery BK by Nieuwoudtville ingedien het, sê die saak is op 10 Julie in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley op ’n tydlyn uitgestel. “Ons gaan repliseer, met ander woorde ons gaan op hul verklaring antwoord. Dan gaan ons en hulle betoogshoofde opstel, en op 23 Julie die saak voor die regter argumenteer.”