Die mooi rooi peer wat op eie bodem ontstaan het en wat peerboere die afgelope paar jaar as Flare leer ken het, is onlangs herdoop tot Cape Fire – ’n geregistreerde handelsmerk waaronder dié pere wêreldwyd bemark sal word.
Om ’n mutasie by peerbome raak te loop, is baie uitsonderlik. Dis selfs nog seldsamer dat dié mutasie eienskappe oplewer wat beter is as die bestaande kultivar en boonop stabiel is. Dit is egter presies die geluk wat mnr. Henri du Plessis van Elandsrivier-boerdery naby Prince Alfred Hamlet oorgekom het.
Dit was toe hy en mnr. Winston Skog, ’n voormalige plaasbestuurder, in 2007 ’n enkele Forelle-tak opgemerk het wat rooier vrugte oplewer as die res van die boom.