Die verkoop van Villiera aan Grands Chais de France (GCF), die grootste wynprodusent in private besit in Frankryk, is die jongste in ’n rits buitelandse beleggings wat die afgelope maande in die Wes-Kaapse wynbedryf gemaak is. GCF het ook verlede jaar Neethlingshof bekom.
Mnr. Jeff Grier, keldermeester van Villiera, sê hulle het ná sorgvuldige oorweging en oorlegpleging besluit om Villiera, wat al sedert 1983 aan die Grier-familie behoort, te verkoop. Die transaksie, teen ’n onbekende bedrag, sluit die onderneming, handelsmerke, die grootste deel van die eiendom, asook ’n wingerdplaas in Frankryk, Domaine Grier, in.
“Ons is al jare lank besig met opvolgbeplannng om ’n gladde oorgang na die volgende geslag Grier te verseker. Die huidige Grier-direkteure is almal bykans op aftrede. Ons het die afgelope jaar ’n intense blik op die toekoms gehad en een van ons konsultante het voorgestel dat ons nie die opsie om te verkoop moet ignoreer nie,” vertel Grier aan Landbouweekblad.