
Die mooi rooi peer wat op eie bodem ontstaan het en die afgelope paar jaar as Flare leer ken is deur peerboere, is onlangs herdoop tot Cape Fire – ’n geregistreerde handelsmerk waaronder die pere wêreldwyd bemark sal word.
Die Forelle-mutasie wat mnr. Henri du Plessis van die Elandsrivier-boerdery naby Prince Alfred Hamlet reeds in 2007 in ’n Forelle-boord teëgekom het, blyk om die antwoord te wees op ’n bloedrooi blospeer wat sy kleur regdeur die bemarkingsvenster behou.
“Dis maklik om te sien waarom die mutasie hul oog gevang het en my pa die materiaal begin vermeerder het,” het Henri se seun, Stefan, op ’n velddag op Elandsrivier, vertel.
Boonop het hierdie kultivar meer as net ’n mooi rooi rok – dit word heel laaste in die seisoen geoes, die eetgehalte is uitstekend, die vrugte berg goed op, die bome lewer aanvaarbare produksies en uitpakpersentasies, veral wat kleur aangaan, is iets om oor te droom.
Die Hortgro-boomsensus toon Forelle is hektaar-gewys die naasgrootste peerkultivar in Suid-Afrika en maak sowat 26% van alle peer-aanplantings uit. En nou kan die gewilde kultivar opdraande verwag van haar mooier kleinsus.
“Tot dusver is 50 000 Cape Fire-bome al gekommersialiseer,” vertel Stefan. Dié bome is geplant in die Warm-Bokkeveld, Koue-Bokkeveld, Langkloof en Grabouw.
“Destyds het Stefan-hulle die peer Flare gedoop, maar intussen agtergekom dis reeds as kultivarnaam in Kalifornië geregistreer. Dit staan nou bekend as Cape Fire, en ons het die handelsmerk met TopFruit se hulp geregistreer in die Europese Unie, Amerika, China, Chili, Viëtnam, Argentinië en Suid-Afrika.”
Opwindende mark
Die eerste Cape Fire-pere is verlede jaar deur Delecta uitgevoer na die Verenigde Koninkryk (VK) en Duitsland. Twee supermarkgroepe het dadelik belanggestel daarin om eksklusiewe regte vir die kultivar te kry. Die vrugte het ook ’n premie van 15% bo Forelle verdien, het mnr. Gert Marais van Delecta, gesê.
“Die inkomste lyk belowend, maar dit gaan belangrik wees hoe ons die aanbod bestuur en die gehalte verseker om die vraag na Cape Fire hoog te hou. Met ’n nuwe kultivar is dit altyd ’n haakplek, want elke boer sal sy eie resep toepas. Ons sal daarom moet seker maak Cape Fire word in mikro-klimate geproduseer wat die vruggehalte bevorder.”
Om dié rede sal Elandsrivier-boerdery die finale sê hê oor waar Cape Fire aangeplant mag word.
Volgens Gert soek die VK die kleiner vrugte en Duitsland verkies die groteres. “Ek dink Cape Fire sal danksy die kleur baie gewild wees in die Verre-Ooste.”
Vaar goed op plaas
Gert meen boere kan ’n beter uitpakpersentasie as met Forelle verwag. “Ek sal sê tussen 80 en 90% (wat kleur betref) is maklik haalbaar. Gewoonlik voldoen net 50 tot 60% van Forelle aan die kleurvereistes.”
Aangesien die kultivar geneig is om skaafmerke op te doen, sal daar wel klas 2-vrugte ook uitkom.
Die klein bietjie vrugte – na verwagting minder as 5% – wat nie aan die standaardvereistes voldoen nie, sal as DPP1 (Du Plessis Peer 1) verkoop word.
Hoewel hulle nog nie behoorlike opbergingsproewe gedoen het nie, het Gert ’n voorspelling gewaag dat Cape Fire goed sal vaar in die doeltreffende opberging van die pere.
“Die vrugte raak nie maklik sag nie, die kleur verander nie en dit kry nie met verloop van tyd ’n geel agtergrond nie. Wanneer ons Forelle oes, is die suikerinhoud tussen 14 en 16 °B, maar op Elandsrivier is die Cape Fire-pere se suikers teen oestyd op 20 °B.”
Hy is ook nie te bekommerd oor sonbrand op die pere nie.
Gert het gemaan dat die “ware toets” voorlê met die eerste werklike kommersiële proewe wat tans in verskillende mikroklimate en met verskillende onderstamme gedoen word.
Wie kan plant? Almal!
TopFruit bestuur die kommersialisering van Cape Fire namens die Elandsrivier-boerdery. Dit sluit die plantmateriaal in, het Corné Grundlingh, bedryfsbestuurder van kernvrugte by TopFruit, gesê.
Enigiemand kan die kultivar aanplant met Elandsrivier-boerdery se toestemming (om te verseker daar word aan gehalte-vereistes voldoen). Enige kwekery kan ook die materiaal versprei.
Die boomheffings is vanjaar R12 per boom.
Stefan sê alle bemarkers kan aansoek doen vir ’n Cape Fire-lisensie. Daar is ’n handelsmerkgebruikstarief as die pere onder die Cape Fire-handelsmerk bemark word. Dit beloop $0,02 per kilogram vir die internasionale mark en $0,01 per kg vir plaaslike bemarking.
“Dis goedkoper en die bemarkingsprogram is minder omvattend as byvoorbeeld Pink Lady. Dit sal ons egter in staat stel om baie te bereik, maar sonder om ’n hoë handelsmerktarief te vra.”