Sagtesitrus het die afgelope jare die toneel oorheers omdat dit so lekker smaak en maklik afskil. Tydens die pandemie het die nederige lemoen egter weer ’n terugkeer gemaak – ’n neiging wat dalk in die toekoms volgehou kan word.
Dink aan vitamien C, en die prentjie van ’n lemoen kom onwillekeurig in jou geestesoog op. Deur die jare het dié sitrusvrug die rolmodel geraak om verkoues weg te jaag en mense se immuunstelsel ’n hupstoot te gee.
“Suid-Afrikaners sal nie sommer die skyfies lemoene vergeet wat tydens halftyd met skolesportwedstryde uitgedeel is nie. Lemoene is nog altyd beskou as dié bron van energie en gesondheid,” vertel me. Lianne Jones, bestuurder van PMA in Suid-Afrika.