Die florerende dadelprojek by die Nautedam in Suid-Namibië verdien baie
valuta vir die land en skep daarby heelwat werkgeleenthede in dié onherbergsame
streek.
'n Reuse-dadelprojek is in die suide van Namibië onder die Nautedam aan't ontwikkel. 'n Goeie persentasie van die vrugte wat nou geproduseer word, word uitgevoer. Nuwe kultivars, waarvan die vrugte wêreldwyd gewild is, word nou vir aanpasbaarheid getoets.
Van E3 tot E4 (sowat R30 tot R40) word per kilogram verdien met Barhee-dadels, wat in Europa bemark word wanneer daar nie ander soortgelyke dadels op die mark is nie. Vanjaar is 145 ton van dié dadels geproduseer en 80 ton daarvan is uitgevoer. Dié uitvoer het gesorg vir 'n bruto inkomste van sowat 3 miljoen Namibiese dollar (N$) (nagenoeg R3 miljoen).
Mnr. Paul Klein, bestuurder van die Naute-dadelprojek, sê in 1989 is die eerste grondondersoeke gedoen en in 1992 is die eerste dadelbome geplant.
Aanvanklik was die plan om dadelbome op 260 ha te plant, maar dit het gou duidelik geword dat dit 'n langtermynprojek sou wees. Spilpuntstelsels is opgerig om mielies, koring en lusern op sowat 160 ha onder besproeiing te verbou om van die grond intussen te benut.
Daar is besluit om 'n druiweprojek te vestig en in 1996 is die eerste 20 ha geplant wat hoofsaaklik uit die kultivars Flame Seedless, Festival Seedless en Thompson Seedless bestaan.
Die Namibiese Ontwikkelingskorporasie het die leiding geneem met die ontwikkeling van die projek, voorsien die geld daarvoor en bestuur dit ook. Die departement van landbou van Namibië sorg vir die ontwerp van die besproeiingstelsel, terwyl die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie internasionale konsultante voorsien om te verseker dat die beste kundigheid vir die verbouing en bemarking van die dadels beskikbaar is.
Die eerste 2 400 bome wat op 20 ha gevestig is, het uit nege kultivars bestaan. Daarna is elke twee jaar nóg 20 ha tot 25 ha gevestig sodat daar nou 10 200 bome van 18 kultivars is. Daar is drie belangrike kultivars, naamlik Barhee, Medjool en Bouffegoose. Die res word geëvalueer om geskikte kultivars vir die plaaslike mark en vir kleinboere te identifiseer.
Barhee is 'n geel dadel wat hoofsaaklik vir die uitvoermark bestem is. Sowat 2 600 van dié bome is op 22,5 ha gevestig, waarvan 10 ha al in produksie is. Die dadels word gepluk en verpak wanneer dit fisiologies ryp is en die suikergehalte reg is, maar die vrugte nog nie bruin verkleur het nie. Dit word na Engeland, Frankryk en Spanje uitgevoer. Tans is dié onderneming die enigste wat die dadels bemark.
Die prys wat behaal word, wissel van sowat R150 per houer tot R200 per houer van 5 kg. Van 200 kg tot 300 kg word per boom gepluk, waarvan gemiddeld 55 % uitgevoer word. Die res word in Namibië bemark.
Medjool word as 'n vars verkleurde dadel bemark. Altesame 4 200 van dié bome is op 35 ha gevestig. Sowat tien vrugte op 'n keer word een-een saam in 'n weelderige houer verpak en as 'n eksotiese produk bemark. Dit word hoofsaaklik in Frankryk verkoop. Die opbrengspotensiaal is van 90 kg tot 100 kg per boom en die prys daarvoor wissel van R40/kg tot R50/kg.
Bouffegoose is 'n nuwe kultivar en mnr. Klein glo dit kan vorentoe goed presteer. Sowat 1 300 van dié bome is gevestig. Dié dadels sal op die mark meeding met Medjool, wat al betreklik goed gevestig is. Sowat 250 kg tot 300 kg van dié vrugte is vanjaar geoes, maar daar was te min vrugte om die uitvoermark te toets. Dié kultivar het 'n opbrengspotensiaal van 70 kg tot 90 kg per boom.
Net plantmateriaal wat deur middel van weefselkultuur gekweek is, word gebruik. Die oorspronklike plantmateriaal is van laboratoriums in Suid-Afrika, Engeland, Frankryk en Marokko gekry.
Die boompies word vir gemiddeld tien maande in 'n kweekhuis gehou om hulle gehard en sterk genoeg te maak om in die land uitgeplant te word sodra hulle vier volwasse blare het.
Nadat die grond skoon- en gelykgemaak is, word dit kruis en dwars sowat 'n meter diep met 'n skeurploeg bewerk. Die plantrye word uitgemerk en die besproeiingspype (met drie mikrospuite per boom, en met 'n lewering van sowat 32 tot 42 per uur elk) word ingesit.
Die water word oor 'n tydperk van vier tot ses weke van tyd tot tyd oopgemaak om die soute in die grond uit te was en die grond diep nat te maak.
Plantgate word gemaak wat sowat drie keer so groot is as die plantsakkies van 15 tot 20 waarin die boompies is. Omdat die grond arm aan fosfaat is, word sowat 1 kg daarvan per plantgat toegedien.
Net vroulike bome word in die produksieboorde geplant. Sowat 5 % manlike bome word in aparte blokke geplant.
Nadat die boompies geplant is, word hulle besproei. Die heel klein boompies kry sowat 300 water per week. Dit word stelselmatig aangepas sodat die bome op twee jaar sowat 400 tot 600 water per week en op vier jaar sowat 900 water per week kry.
As die bome begin dra, kry elk gemiddeld 1 200 water per week, op ses jaar gemiddeld 2 000 per week, en wanneer hulle vol in produksie is, van 2 500 tot 4 000 per week, na gelang van die produksie.
Bemesting (net stikstof) word deur die besproeiingswater toegedien. Dit wissel van 150 g tot 400 g ammoniumsulfaat per boom per maand, wat in agt "paaiemente" van April tot November toegedien word.
In die eerste sowat vier jaar, totdat die bome begin dra, word onkruidbestryding met die hand gedoen en blare wat op die grond sleep of afsterf, word uitgesnoei.
Wanneer die bome begin dra, word snoeiwerk volgehou en die dorings van die blare wat behou word, word afgesny sodat 'n mens makliker in die boom kan werk. Dié plantasie-onderhoud word van April tot Julie gedoen, want wanneer die plante in Augustus begin blom, is daar nie tyd vir dié werk nie.
In Augustus en September word die blomme van die manlike bome afgesny en in 'n droogkamer geberg. As die stuifmeel droog is, word dit uitgeskud en met 'n neutrale poeier gemeng om die stuifmeel te verdun en vermorsing te voorkom.
Strokies spons word in die stuifmeelmengsel gedoop en in die blomme van die vroulike bome vasgemaak. Twee dae later word dié blomme oopgemaak en nóg van die stuifmeelmengsel ingesprinkel.
Van Oktober af word met trosbestuur begin. Vir elke agt tot tien blare word 'n tros dadels aan die boom gelos. Indien nodig, word swak bestuifde trosse met min vrugte per stingel uitgeknip.
Die onbestuifde vruggies in die trosse wat oor is, word uitgepluk en sowat een derde van die tros word in die middel uitgeknip om groter vrugte te verseker.
Terselfdertyd word die trosse uitgebuig en aan 'n blaar vasgemaak om te voorkom dat die stingels breek as die trosse swaarder word. Die trosse word met skadunet toegemaak om dit teen voëls en koedoes te beskerm, maar sodat genoeg lig deurkom om die kleur te verbeter.
Sowat ses weke voordat die vrugte geoes word, word die trosse weer deurgekyk. Waar die trosse te dig gepak is met vrugte, word van die vrugte uitgedun om 'n beter lugvloei deur die tros te verseker.
Mnr. Klein sê hulle begin die derde week van Februarie oes tot aan die einde van Mei. Die trosse wat geoes word, word gemerk en die volgende dag gesny, na die pakhuis gebring, afgespuit en vooraf verkoel. Daarna word die stingels met vrugte afgesny, gesorteer en verpak.
Tot dusver kom geen siektes op die dadels of bome van die projek voor nie. Omdat net plantmateriaal van buite ingebring word wat deur middel van weefselkultuur gekweek is, is daar feitlik geen kans dat dié siektes wat 'n groot invloed op die wêreld se dadelbedryf het, daar kan uitslaan nie. Geen chemiese middels word gebruik nie. Om dié rede het die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie dit oorweeg om 'n wêreldgenebank daar te vestig. Hoofsaaklik plaaslike mense werk by die dadelprojek, wat tot dusver sowat 115 werkgeleenthede in die oestyd geskep het. Gemiddeld een werker word per 2 ha gebruik om die ander produksietake in die jaar te behartig. 27 Junie 2003