
Die verbouing van turksvye, die verwerking en benutting daarvan as veevoer, die gebruike deur die mens en biotegnologiese moontlikhede is van die onderwerpe op ’n inligtingsdag wat by die Universiteit van die Vrystaat gehou gaan word.
Die boeredag word op 27 Augustus in die UV se CR Swart-ouditorium gehou. Prof. H.O. de Waal van die UV sê na aanleiding van die navorsing in die Vrystaat het die behoefte ontstaan om tersaaklike inligting meer formeel aan voornemende produsente beskikbaar te stel.
Volgens hom noodsaak aansprake op skaars waterbronne vir menslike gebruik in Suider-Afrika die ontwikkeling van alternatiewe veevoerbronne. Daar word spesifiek gesoek na gewasse wat doeltreffende verbruikers van water is.
Lees ook:
Volgens hom is die doringlose turksvye (Opuntia ficus-indica) ’n belangrike bron van hernubare plantproduksie deur middel van fotosintese. Dit lewer groot opbrengste per eenheidsoppervlakte − tot 30 000 kg vars vrugte/ha.
Die plante word jaarliks gesnoei om vruggehalte te verbeter en lewer daardeur sowat 100 000 kg vars turksvyblaaie/ha. Indien die oogmerk is om die eerder die plante as veevoer te benut, kan turksvye met min moeite sowat 400 000 kg vars blaaie/ha produseer.
17 Augustus 2010