
Daar is reeds meer as 250 000 bome verkoop en volgens Tru-Cape se Calla du Toit kon daar nóg 500 000 bome vanjaar verkoop geword het – as dit beskikbaar was.
Tru-Cape, saam met Pink Vein Bpk., die eienaar van die kultivar, beraam dat daar 2 miljoen bome teen 2020 aangeplant sal wees net in Suid-Afrika.
Die verbruiker is gaande oor die volrooi Gala. Dit slaan nie terug na die genetika van sy ouers toe nie en anders as ander galas, selfs die Corder Gala waaruit die BigBucks-mutasie ontstaan het, hoef dit net een keer gepluk te word. Dit is dus aansienlik goedkoper vir die produsent om hierdie gesogte appel te produseer.
Dié appel is egter herdoop tot Flash Gala omdat die eienaars, mnre. Buks Nel, Derek Corder en Anthony Rawbone-Viljoen, die drie aandeelhouers van Pink Vein, nie die verbruiker die indruk wou gee dat dit ’n duur vrug is nie. Die vooruitsig op “groot geld” vir produsente is egter nie te betwyfel nie.
Buiten die volrooi kleur is die eienskappe van die Flash Gala identies aan enige ander Gala, van drag tot opberging. Die kommersiële boorde wat reeds gevestig is, lewer tussen 80 en 100 ton/ha en die gehalte is van so ’n aard dat uitpakpersentasies op kleur van tot 90% ’n norm is.